Die Montagu-polisie in vennootskap met die Montagu-dagkliniek het ’n kankerbewusmakingsessie in die Kabouterlandsaal in Ashbury, Montagu, aangebied.
Sowat 60 vroue van alle ouderdomme het die inligtingsessie bygewoon.
Twee vroue het hul wedervaringe met dié gevreesde siekte gedeel.
Ria Windvogel, het van haar daaglikse stryd met kanker vertel en gesê sy gaan ondanks verskeie terugslae steeds positief voort met haar lewe.
Selistien Moses het in ’n emosionele motiveringstoespraak vertel hoe sy kanker geklop het.
Die hoofspreker by die geleentheid was die verpleegsuster Pikkie Meyer van die dagkliniek.
Sy het in haar toespraak onder meer vroue aangemoedig om hul borste gereeld te ondersoek vir moontlike knoppies en ook ’n papsmeer te laat doen.
Sy het selfs die instrument waarmee die papsmeer gedoen word, aan die vroue getoon en met haar hande gedemonstreer hoe dit uitgevoer word.
Voorts het sy ook simptome genoem waarop vroue bedag moet wees wat die moontlikheid van kanker kan aandui.
Verder het sy ook vrae van die vroue aangaande die siekte beantwoord.
Ter afsluiting van ’n baie insiggewende en leersame inligtingsessie het konstabel Esmerelda Philander, misdaadvoorkomingsbeampte van die Montagu-polisiekantoor en ’n mede-organiseerder van die geleentheid, alle betrokke rolspelers vir hul onderskeie bydraes bedank om die dag ’n sukses te maak.
Daarna is warm sop en kerrievetkoek bedien.





