Sommige inwoners van Moorreesburg het onlangs hul bekommernisse laat hoor nadat ’n vragmotor gesien is wat vermoedelik rou riool in ’n stroom in die omgewing van Hooikraal stort.
Die Swartland-munisipaliteit het op navraag rakende die beweerde onwettige storting van riool bevestig dat geen ongerymdhede met die betrokke vragmotor verbind word nie. “Daar was geen voorval waartydens munisipale riool onwettig gestort word nie,” het die munisipaliteit laat weet. Die munisipaliteit het vroeër gesê dat alle storting van rou riool in riviere of enige ander plek behalwe by rioolsuiweringswerke onwettig is.
Dié vragmotor wat herhaaldelik deur inwoners afgeneem is terwyl die tenkwa leeggemaak word, is volgens die munisipaliteit wettig verbind tot die plaaslike rioolwatersuiweringsaanleg. “Die vragmotor wat afgeneem was, is verbind tot ’n wettige mangatverbinding wat direk aan die rioolwatersuiweringsaanleg gekoppel is.”
Daardie verbinding vloei direk na die Moorreesburg-rioolwatersuiweringsaanleg, waar die riool op sy beurt volgens die hoogste standaarde verwerk word. Die leegmaak van vragmotors by die verbinding word slegs per geleentheid gedoen wanneer die normale verbinding tot die rioolsuiweringsaanleg-fasiliteit nie toeganklik vir die riooltenkwaens is nie weens opgraderings wat tans by die fasiliteit op Moorreesburg plaasvind.”
Die Swartland-munisipaliteit nooi inwoners om die amptelike opening van die plaaslike watersuiweringsaanleg by te woon sodra opgraderings voltooi is.



