Marlé Oosthuizen, die redakteur van Hoërskool Bonnievale se skoolkoerant, Voorwaarts, wat weer eens as die land se beste skoolkoerant in Netwerk24 se skolenuus-kompetisie in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad.


Hoërskool Bonnievale is die afgelope Vrydag (26 November) die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die skool met die beste skoolkoerant in Netwerk24 se skolenuus-kompetisie in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad.

“Dit was nagte se werk om die koerant klaar te kry, en sommige aande het ek eers halfeen die oggend gaan slaap,” vertel Marlé Oosthuizen, die redakteur van Voorwaarts.

Volgens Marlé is sy baie dankbaar en bevoorreg dat die skool vir nóg ’n jaar met die prys vir die beste skoolkoerant wegstap.

Hoërskool Bonnievale is ’n klein skool met net sowat 600 leerders van graad een tot graad 12, maar het stééds stof in die oë van groter skole geskop.

“Ons as redaksiespan het gehoop vir die beste, want ’n mens weet nooit waarna die beoordelaars kyk nie. Ek het nie gedink ons sal weer wen nie,” verduidelik Marlé.

Chameron Mathys, ’n waarnemende onderwyser, het eers sedert April by die skoolkoerant, wat redaksielede insluit van graad nege tot 12, aangesluit.

Mathys sê die skool het weggestap met R25 000 se prysgeld as die land se beste skoolkoerant.

Individuele pryse is ook uitgedeel, naamlik die beste Instagram-blad, beste digitale skoolkoerant, die beste foto (Carli Erasmus), en nuusfoto (Heinrich Wentzel), beste in-diepte artikel (Christiaan de Wet) en nuusberig (Marlé Oosthuizen), asook die beste onderhoud (Heinrich Wentzel).

Marlé skryf tans haar matriekeindeksamen, en gaan volgende jaar oogkunde in Bloemfontein studeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article