Dit het verlede week in die wynbedryf behoorlik gegons met die aankondiging dat John Loomes van 1 Junie af die leisels by Boyce Lloyd as uitvoerende hoof van die KWV oorneem.

En die skindertonge het sommer dadelik begin klap met beweringe dat Lloyd gevra is om opsy te staan weens sy vrou, Anita, se omstrede optredes in die huidige KykNet-televisiereeks The Real Housewives van die Wynlande.

Anita het uit die staanspoor heelwat kritiek weens haar gewaagde uitlatings op nasionale televisie uitgelok.

Die bestuur van die KWV ontken egter hierdie gerugte en sê die noukeurig georkestreerde leierskapsoorgang, wat reeds in Julie verlede jaar begin het, verseker ’n naatlose oorhandiging en posisioneer die KWV vir volgehoue groei en uitnemendheid.

Loomes dien sedert September verlede jaar as die voornemende uitvoerende hoof van die KWV en was in sy tydelike rol as bedryfshoof verantwoordelik vir die meeste funksies en rapporteringslyne. Sy verantwoordelikhede is in Januarie verder uitgebrei en hy het die onderneming die afgelope vyf maande doeltreffend bestuur en sy gereedheid getoon om volle verantwoordelikheid as uitvoerende hoof van 1 Junie af te aanvaar.

Met ’n terugblik op sy reis tot sy aanstelling as uitvoerende hoof, het Loomes sy trots uitgespreek om van die Verenigde Arabiese Emirate na Suid-Afrika terug te keer en by die KWV aan te sluit. “Om vir ’n ikoniese Suid-Afrikaanse maatskappy soos die KWV te werk, is ’n ongelooflike geleentheid,” sê hy. “As bedryfshoof het ek ’n diepgaande begrip van die hele onderneming gekry – plaaslik en internasionaal – en dit het my voorneme versterk om die KWV se sukses en groei te bevorder.”

Loomes het danksy sy uitgebreide agtergrond in die dranksektor en in snel bewegende verbruikersgoedere (FMCG) en verpakte verbruikersgoedere (CPG), ’n magdom ervaring en ’n bewese suksesrekord om ’n opwindende nuwe hoofstuk vir die KWV in te lui. Hierdie strategiese aanstelling bevestig dat die KWV verbind is om ’n baanbrekersrol in die bedryf te vervul en die maatskappy se ambisies vir uitbreiding te bevorder.

Loomes voorsien ’n blink toekoms vir die KWV. “Ons het passievolle mense, uitstekende handelsmerke en stelsels en is boonop baie goed met wat ons doen,” sê hy. “Ons beoog om na nuwe velde en kategorieë uit te brei, met beide ons eie handelsmerke en deur vennootskappe met internasionale handelsmerke, wat by ons strategie en passie pas. Ons sal voortgaan om te innoveer en fantastiese handelsmerke en produkte na die mark te bring, en streef daarna om die voorkeur-kleinhandelvennoot in Suid-Afrika en internasionaal te wees.”

Terwyl die KWV Loomes in sy nuwe leierskaprol omarm, bly dit terselfdertyd verbind tot sy erfenis van gehalte en uitnemendheid. “Ons het van die beste mense in die bedryf, wat net so trots en opgewonde soos ek is om hier te wees,” sê Loomes. “Ons sal ons hoëgehaltestandaarde vir al ons produkte handhaaf en verseker dat die KWV ’n vertroude naam in die bedryf bly.”

Boyce Lloyd, die uittredende uitvoerende hoof van die KWV, het sy vertroue oor Loomes se aanstelling en sy leierskap uitgespreek. “John is ’n hoogs gerespekteerde leier wat reeds ’n belangrike rol in die KWV se groei vervul het. Ek is oortuig die KWV sal onder sy leiding floreer en sukses behaal. Sy verbintenis tot gehalte, vernuwing en uitnemende klantediens sal verseker die KWV is steeds ’n maatskappy wat verbruikers en klante kan vertrou.

“Die KWV sien uit na ’n blink toekoms met Loomes aan die stuur en is daarvan oortuig dat sy aanstelling as uitvoerende hoof die maatskappy tot nuwe hoogtes sal voer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article