Die Wes-Kaapse veeartsenydienste het pluimveeboere gewaarsku dat voëlgriep op twee kommersiële plase in die Paardeberg-omgewing tussen Paarl en Malmesbury aangeteken is.
Die provinsiale minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het verlede week in ’n verklaring gesê ongeveer 120 000 voëls het reeds gevrek of is van kant gemaak.
Volgens Meyer is die eerste uitbreking Vrydag 21 April bevestig en die tweede Dinsdag 25 April.
Die presiese stam betrokke is nog onbekend en word ondersoek.
“Uitbreking van voëlgriep met hoë patogenisiteit kom wêreldwyd voor en is vroeër in 2023 en die hele 2022 by pluimvee in ander Suid-Afrikaanse provinsies opgespoor. Die Wes-Kaap het egter sedert vroeg verlede jaar nog nie die virus in kommersiële pluimvee gesien nie,” verduidelik Meyer.
Luidens sy verklaring word voëlgriep ingevolge die Wet op Dieresiektes, 35 van 1984, beheer.
Voëlgriep is ’n virussiekte wat versprei word deur direkte kontak tussen gesonde en besmette voëls of deur indirekte kontak met besmette toerusting of ander materiaal. Die virus kom in besmette voëls se ontlasting en afskeidings uit hul neuse, mond en oë voor. Boonop kan mak voëls besmet word deur fekale kontaminasie van die omgewing deur wilde voëls of deur indirekte kontak met besmette pluimvee op ander persele.
Geen entstof of behandeling teen hoogs patogeniese voëlgriep is tans beskikbaar nie. Gevolglik vereis die huidige praktyk in ’n groot deel van die wêreld dat besmette voëls so vinnig as moontlik van kant gemaak word om die verspreiding van die siekte te beperk.
Intussen het Jannie Strydom, die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, gesê dié landbouliggaam, wat kommersiële boere verteenwoordig, het ook kennis geneem van die uitbreking van voëlgriep in die Paarl- en Paardeberg-omgewing.
“Volgens ons inligting beloop die hoeveelheid lêhenne wat al gevrek het en van kant gemaak is, ongeveer 900 000. Hierdie behoort ongetwyfeld ’n negatiewe uitwerking op eier-produksie in die provinsie te hê,” het hy by navraag gesê.
Die Wes-Kaapse regering doen ’n beroep op die openbare en landbousektor om hoogs bedag te wees. Boere en pluimveeprodusente moet waaksaam wees in hul biosekuriteitsmaatreëls om die potensiële verspreiding van die virus deur wilde voëls of hul ontlasting te voorkom deur die volgende stappe toe te pas:. Toegang tot eiendomme moet so ver as moontlik beperk word;. dit is noodsaaklik om pluimvee ver van wilde voëls en hul liggaamsvloeistowwe weg te hou;. vermy die verspreiding van die virus deur besmette klere, skoene, voertuie of plaastoerusting;. voertuie wat eiendomme binnegaan, moet ontsmet word wanneer mense in- en uitklim;. moenie mense wat die afgelope 48 uur met pluimvee kontak gehad het, op jou eiendom toelaat nie; en. die gebruik van voetbaddens om skoene te ontsmet by in- en uitgange na pluimveeplase, word aangeraai.
“Hoewel die gevaar laag is dat voëlgriep na mense oorgedra word, beveel kenners aan dat lede van die publiek nie aan dooie voëls moet raak nie. Daarbenewens beveel ons veral versigtigheid aan wanneer potensieel besmette pluimvee hanteer of geslag word – handskoene, ’n masker en oogbeskerming moet gedra word.”
Meyer meen egter pluimveeprodukte van kruidenierswarewinkels is veilig vir verbruik.
Enige vermoede van die siekte by wilde of mak voëls moet by die plaaslike staatsveearts aangemeld word. Kontakbesonderhede is beskikbaar by: https://www.elsenburg.com/veterinary-services/animal-health-and-disease-control/




