Met minister Barbara Creecy se aankondiging van die visvangverbod rondom die eilande waarop die Afrika-pikkewyne voorkom, kan dit dalk net die oplossing wees vir die suksesvolle voortbestaan van die spesie.
Creecy, die minister van bosbou, vissery en omgewingsake, het op 4 Augustus ’n 10 jaar lange visvangbeperking rondom sekere eilande, waar kolonies Afrika-pikkewyne voorkom, ingestel. Een van daardie eilande sluit Dasseneiland se oostekant buite Yzerfontein in die Swartland in.
Mededinging vir kos blyk een van die hoofoorsake te wees wat onder meer tot die afname in getalle bydra. Ander faktore soos waterverkeer deur skepe, saam met die geraas en vibrasies van bote, besoedeling en die verwoesting van geskikte habitatte waar nes gemaak kan word, speel ook ’n deurslaggewende rol.
Creecy het gereageer op ’n verslag wat uitgereik is deur ’n paneel wat sy saamgestel het. Sy het as gevolg van dié wetenskaplike navorsing besluit om visvangbeperkings van 10 jaar in te stel, wat ná ses jaar van implementering en die versameling van data hersien sal word. Dit volg nadat die minister ’n paneel in Desember 2022 daargestel het om die wetenskap wat verbind word tot die doeltreffende bestuur van interaksie tussen die aasvisbedryf (sardyne en ansjovis) en die bewaring van die Afrika-pikkewyne te bestudeer. Ander eilande sluit in Stony-eiland, Robbeneiland, Dryereiland en St. Croix- en Voëleiland. “Die besluit sal geïmplimenteer word sodra ’n ooreenkoms binne die volgende paar weke of maande tussen alle sektore oor die beperkings bereik kan word,” voeg sy in ’n verklaring by.
Die paneel bestaan grootliks uit internasionale kenners en wetenskaplikes op die gebied van marine-ekostelsels.
Volgens die V&A Waterfront se Twee Oseane-akwarium bestaan ’n moontlikheid dat sowat 500 broeipare van die Afrika-pikkewyn jaarliks en elke jaar daarna volgens wetenskaplike navorsing uitgeroei kan word.
“Teen 2035 sal dalk nie meer genoeg broeipare oor wees vir die spesie om voort te bestaan nie,” sê die stigting vir die bewaring van marinelewe by die Kaapstad- gebaseerde akwarium.
Volgens die stigting mag die beperkings, wat die minister ingestel het, dalk nie genoeg wees om die Afrika-pikkewyn van uitsterwing te red nie. Daarom het hulle die #NotOnOurWatch-veldtog, in samewerking met plaaslike vennote, die Florida-akwarium, die Georgia-akwarium en die Australiese Zoos Victoria van stapel gestuur om te verseker dat die spesie nie uitsterf nie. “As almal saamwerk, kan ons die afname in pikkewyngetalle keer, sê dr. Judy Mann, uitvoerende hoof van strategiese projekte by die akwarium se stigting en president van die internasionale dieretuin- opvoedkundige stigting
Vic Warrington, die eienaar van Dasseneiland-visvangdienste, wat daagliks in die omgewing van Dasseneiland is, is van mening dat studies op grondvlak moet plaasvind en nie slegs deur internasionale kenners nie. “Ek sien daagliks duisende pikkewyne naby Dasseneiland. Soms sien ons die Afrika-pikkewyn in groot getalle sowat 80 km ander kant die eiland, besig om aasvis te jag. Pikkewyne beweeg rond en gaan waar die kos is.”
Volgens Warrington, wie se familie ’n groot rol in die daarstelling van die stigting vir die bewaring van kusvoëls, SANCCOB, in die sewentigerjare gespeel het, is die toenemende getalle robbe asook pelikane een van die grootste probleme in die afname van die pikkewynspesie se getalle. “Die robbe neem eilande soos Dasseneiland oor en pelikane jaag weer die pikkewyne van hul neste af om by die eiers uit te kom. Dit bring mee dat die pikkewyne na die strande vlug en daar nesmaak,” verduidelik hy. Volgens hom is pikkewyne op strande in gevaar van strandgangers, wat dus ’n bedreiging in die voortbestaan van die pikkewyne kan inhou. Warrington is dit eens dat visvangbeperkings wel nodig is weens die toename in treilvissersbote of sleepnetvissers.



