’n Wesenlike verskil bestaan in Aspergers in meisies teenoor seuns.
Asperger-sindroom, ’n outismespektrumversteuring, word baie minder onder meisies gediagnoseer, hoofsaaklik omdat meisies die vermoë het om hul simptome te versteek of te kamoefleer.
Asperger-sindroom word gekenmerk deur aansienlike probleme in sosiale interaksie en nieverbale kommunikasie, maar verskil van outisme omdat mense met Aspergers (Aspies) relatief ongestoorde spraak en intelligensie het.
Volgens die Asperger/Autism Network word professionele mense meestal opgelei om op die uitkyk te wees vir die tipiese Asperger-/outismesimptome, soos wat dit onder seuns teenwoordig is.
“Meisies met Aspergers sal heel moontlik van ’n vroeë ouderdom af aanvoel hulle is ‘anders’ en hul ouers en oppassers sal opmerk hul belangstellings is eiesoortig en verskil van dié van hul maats. Hulle verkies gewoonlik om net een of twee vriende te hê of alleen te speel.
“Aspie-meisies kan ’n afkeer toon in wat gewild, vroulik of modieus is. Baie van hulle is gevoelig vir teksture en verkies gemaklike, praktiese klere. As jong vroue kan Aspie-meisies naïef of onvolwasse voorkom, aangesien hulle nie gesinchroniseer is met die nuutste neigings of sosiale norme nie.
“Aspies werk baie hard daaraan om hul sosiale verwarring en angs deur strategiese nabootsing, bekend as masking, te ‘kamoefleer’. Hulle leer hulself sosiale vaardighede aan – beter as hul manlike eweknieë. Aspie-meisies is dikwels in staat om ‘saam te smelt’ of tussen ander weg te raak deur gesigsuitdrukkings na te boots en doelbewus oogkontak te maak ten spyte van die interne ongemak of angs wat dit kan ontlok.
“Aspie-meisies gebruik hierdie kamoefleer-strategie om by die skool ‘in te pas’ en leer dit aan deur televisieprogramme, uit alledaagse waarneming of by hul neuro-tipiese maatjies.”
Dr. Shana Nichols, ’n kliniese sielkundige en navorser in die outismespektrumversteuring, meen Aspie-meisies boots ook hul maats na, hou hulle van die kantlyn af dop en gebruik hul intellek om die beste maniere te vind om onopgemerk te bly.
“Hulle bestudeer, oefen en leer gepaste benaderings tot sosiale situasies.”
Sy meen hulle ontwikkel hierdie “hanteringsmeganismes” om gevoelens van frustrasie en die internalisering van mislukking te bedek.
Aspie-meisies wys verskillende kante van hul persoonlikhede in verskillende omgewings. Volgens Tony Attwood, ’n Britse sielkundige bekend vir sy werk oor Asperger-sindroom, kan Aspie-meisies sosiale verwarring in stilte en afsondering in die klaskamer of speelgrond hanteer, maar by die huis die “masker verwyder”. Dié gebottelde emosies word dikwels as ’n ineenstorting (bekend as ’n meltdown eerder as ’n tantrum) vrygelaat. Meisies raak emosioneel uitgeput om die hele tyd al die sosiale reëls te ontsyfer en om diegene rondom hulle na te boots om hul verskille “weg te steek”.
’n Studie, Social camouflaging in autistic and neurotypical adolescents, het bevind masking hou nadelige gevolge in, soos geestelike, fisieke en emosionele dreinering, depressie en ’n gevoel van uitgeworpenheid. Dit is omdat masking gekenmerk word deur die konstante monitering van wat as sosiaal aanvaarbare gedrag beskou word.
“Die samelewing verwag ook meisies en vroue moet ’n sterk sosiale identiteit hê, waar mans se vriendskappe histories meer aktiwiteitgebaseerd is.
Dit plaas geweldige druk op meisies met Aspergers.
“Aspie-meisies vind dit ook moeilik om by situasies, wat noodgedwonge in die lewe skielik kan verander, aan te pas. Intense beligting, klank of aanraking veroorsaak sensoriese oorlading wat hulle soms aggressief kan laat voorkom. Hulle probeer eintlik net iets kommunikeer, of het ’n sensoriese probleem wat hulle probeer reguleer.
“Aspie-meisies, nes Aspie-seuns, het dikwels ’n neiging om spesiale belangstellings en obsessies te ontwikkel. Die klassieke stereotipes wat in die samelewing gebruik word, is spesiale belangstellings en obsessies met feite.”
Die Autism Parenting Magazine raai ouers, wat vermoed dat hul dogter moontlik aan Asperger-sindroom ly, aan om hulle vir ’n moontlike diagnose te neem om te keer dat hulle sonder die ondersteuning en hulp wat hulle benodig, deur die lewe gaan. Aspie-meisies word volwasse vroue wat jare lank sukkel om ’n “ander identiteit te smee”, ’n ander mens te probeer wees of te probeer “goed wees” of “inpas”.
Volgens dr. Susan F. Epstein, ’n kliniese neuropsigoloog, kan Aspie-meisies dikwels wonder wat “fout” is met hulle en aan ’n swak selfbeeld en depressie ly. Hulle kan selfs kwesbaar raak vir afknouery.
Ná ’n diagnose kan Aspie-meisies en hul gesinne saam met outismekundiges, arbeidsterapeute, psigiaters of ander professionele mense ’n langtermynplan uitwerk om hulle te bemagtig. “Meisies met Aspergers sal heel moontlik van ’n vroeë ouderdom af aanvoel hulle is ‘anders’,” sê Epstein.





