Norman Evertson

MONTAGU. – Villagers Montagu het Saterdag, 29 April, sy buurman, Montagu Klub in `n klipharde Grootuitdaagbekerligawedstryd met 26-16 geklop.

Die kragmetings tussen hierdie twee rubyspanne staan bekend as derbywedstryde. Dié stryde is gewoonlik hard en genadeloos en lok groot belangstelling onder die inwoners.

Laas Saterdag was dus geen uitsondering nie. Die King Edward-sportgronde, waar die kragmeting plaasgevind het, het uit sy nate gebars.

Montagu Klub was die volslae gunsteling om die wedstryd te wen omdat hy verlede jaar twee keer met Villagers Montagu afgereken en boonop vir die Boland-rugbyunie se Top 12-kompetisie gekwalifiseer het.

Knap na 16:00 het Jabian Jeftha (skeidsregter) sy fluitjie hard geblaas om die wedstryd aan die gang te sit.

Die spanne het mekaar vanuit die staanspoor met mening gepak.

Montagu Klub (die besoekers) is kort na die afskop vir `n oortreding gestraf, maar Villagers se regtervleuel, Beon Hartnick, se strafdoelpoging was regs verby.

Minute later is Montagu weer gestraf.

Villagers het kantlyn toe geskop vir `n lynstaan net buitekant die besoekers se 22-meter-gebied. Daarvandaan het hy gedryfmaal en die losskakel, Charl-Hein Saunders, het gedruk.

Die humeure het hierna opgevlam en `n onderonsie het onder die spelers uitgebreek.

Jeftha het egter gou die orde herstel en die geidentifiseerde molesmakers – een speler van elke span – elk met `n geelkaart koelkamer toe gestuur.

Hartnick het toe die doelskop waargeneem, maar dit was egter mis. Villagers het neem wel die voortou met 5-0.

Niven Langdown, losskakel van Montagu, het minute later, nadat Villagers vir `n hoogvat gestraf is, sy span se eerste punte met `n suksesvolle strafdoel aangeteken om die telling na 5-3 te maak

Nadat Villagers die spel met die inskop hervat het, was daar goeie stukkies spel aan beide kante.

Toe Villagers weer vir `n skrumoortreding gestraf word, het Langdown, wat die tuisspan `n paar benoude oomblikke met sy vlymskerp breekslae besorg het, met sy tweede strafdoel geslaag om sy span met 6-5 die voortou te laat neem.

Minute later het `n Montagu-lynstaanbal in Bradley Jumaats, stut van Villagers se hande beland. Dit het gelei na `n drie deur MacMillan Muller, kaptein en haker van die tuisspan.

Die doelskop is weer mis, maar Villagers neem die leisels oor met die telling wat op 10-6 te staan kom.

Jackie de Villiers (regtervleuel) van die besoekers is `n rukkie later met `n geelkaart gestraf oor `n gevaarlike duikslag op `n teenstaander.

Net voor rustyd het Langdown, wat baie akkuraat gekorrel het, met sy derde strafdoel geslaag om die rustyd telling op 10-9 te staan te bring, nadat Villagers vir `n oortreding by `n losskrum gestraf is.

Na die aanvang van die tweede helfte was Montagu, na die afskop, in Villagers se kwartgebied in `n baie gunstige posisie, waar hy die een aanval na die ander geloods het. Maar weens rotsvaste verdediging deur die tuisspan kon hulle hulle nie derubreek nie.

Die spel is toe later met `n goeie lynskop deur Charl-Hein Saunders (losskakel) tot op die middellyn verplaas.

Villagers het hierna twee lynstane verbrou voordat Montagu vir onkantspel gestraf is en Hartnick met `n strafdoel die telling 13-9 gemaak het.

Kort hierna het Hartnick met nog `n strafdoel geslaag om die telling op 16-9 te staan te bring.

Die spanning het begin oplaai want die uurglas was vinnig besig om leeg te loop.

Dié Top 12-deelnemer van laas jaar het die druk erg begin voel toe Hartnick met nog `n strafdoel slaag om die telling 19-9 te maak.

Na die spel weer hervat is, het Montagu met`n geweldige aanslag gekom wat gemaak het dat Villagers `n paar keer gestraf is. Montagu het dan telkens getikskop en vinnig gespeel, maar Villagers se verdediging het gehou.

Op `n stadium het die bal by `n losskrum losgespat en Jack van Wyk (linkervleuel) van die tuisspan het dit opgepik en meer as 60 meter gehardloop, sonder dat `n hand op hom gelê is om `n pragdrie af te rond wat die wedstryd buite bereik van die besoekers geplaas het.

Hartnick se doelskop was tussen die pale deur en met slegs enkele minute speeltyd oor het die telling tot `n onaanvegbare 26-9 gegroei.

Hoewel die koeël toe reeds verby die preekstoel was, het Montagu steeds meedoenloos aangeval en is vir sy moeite met `n troosdrie deur die sterk senter, Mac-John Daniëls, wat `n barshou gespeel het, beloon.

Langdown het met sy dodelike skopvoet twee punte met die doelskop bygevoeg om die eindtelling op 26-16 te staan te bring.

Met dié sege het Villagers die bordjies verhang deur Montagu met die kous oor die kop huistoe te stuur.

Na die eindfluitjie geblaas het, was daar `n rondplukkery en woordewisseling tussen enkele spelers, maar gelukkig het geen ernstige voorvalle daaruit gespruit nie.

..

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article