’n Gesteelde voertuig is kort ná die aanmelding daarvan deur plaaslike polisielede teruggevind.
Lede van die Malmesbury-polisiekantoor het verlede Maandag omstreeks 17:15 op ’n oproep rakende ’n gesteelde voertuig gereageer kort nadat dié spesifieke voertuig as gesteel aangemeld is. Die voertuig is in die omgewing van Lentegeur naby Mitchells Plain gesteel.
Danksy spoedige optrede deur polisielede is die voertuig op die Bloemendal-pad in Malmesbury gewaar en voorgekeer.
Vier verdagtes tussen die ouderdomme van 31 en 41 jaar is in die VW Polo vasgetrek. Die verdagtes kon nie ’n verklaarbare verduideliking gee ten opsigte van waar die voertuig vandaan kom nie.
Die verdagtes is op aanklag van die besit van gesteelde goedere in hegtenis geneem.
Ná verdere ondersoek is bevestig dat die voertuig wel in die Lentegeur-woonbuurt as gesteel aangemeld is.
Al vier verdagtes het Woensdag (30 November) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Die stasiebevelvoerder, kol. Benjamin Gqabi, het die plaaslike inwoners en polisielede bedank vir hul flink optrede en toewyding tot die bekamping van misdaad.



