Malmesbury se Vian Steenkamp is sterk op pad om middel September saam met senior toutrekkers in Maleisië mee te ding.


Malmesbury se Vian Steenkamp leef (veral) vir toutrek. Sy toekomsplanne draai meestal om toutrek, en middel September gaan hy saam met senior trekkers in Maleisië deelneem.

Vian het eers in graad 8 saam met sy maats aan hierdie sportsoort begin deelneem. Danksy die aanmoediging van sy afrigters, het hy in graad 9 saam met seniors begin oefen. “Eers tóé het alles rondom toutrek vir my gekliek, en daarvandaan het ek begin ernstig raak oor toutrek.”

Vian se ‘ernstig raak’ beteken dat hy verlede jaar as graad 9-leerder aan die Hoërskool Swartland vir die senior WP-span gekies is en dadelik medaljes begin inoes het.

Hy is vanjaar weer in die onder 23-WP-span opgeneem. Dit beteken sy naweke bestaan uit toutrek, oefen en kompetisies.

“Die laaste ruk het alles skielik begin gebeur toe ons in Bloemfontein aan die SA byeenkoms deelgeneem het,” verduidelik hierdie 16-jarige. “Daarna is ek in die SA span wat van 13 tot 19 September in Kuala Lumpur, Maleisië, teen internasionale spanne gaan deelneem.”

Die byeenkoms kos R20 000 per deelnemer, sakgeld uitgesluit.

Vian is deel van die 560 kg/600 kg-span vir die 0.23’s en verduidelik sy rol só: “Ek trek voor, want ek het die vermoë om opposisiespanne se beoogde planne goed te lees. Dan gee ek dadelik die teken agtertoe sodat ons hulle taktiek kan teenwerk.”

Hy is nie stewig gebou nie – waar kom sy plek in die senior span vandaan? “Tegniek en krag is belangriker as gewig; dis waarom ons elke jaar van Januarie tot September oefen, oefen, oefen.”

Dit beteken twee ure se harde oefeninge in die Strand en Malmesbury, elke weekmiddag, plus oefenkampe en kompetisies oor naweke.

Hy gee graag erkenning aan die rol wat sy afrigters, Erhardt Buhr en Bennie Geldenhuys, in sy ontwikkeling gespeel het. “Hulle het iets in my raakgesien, my aangemoedig om toutrek ernstig op te neem – ek kan net dankie sê hiervoor.”

Nou begin hierdie positiewe jongman baie opgewonde raak oor die Maleisiese byeenkoms. “Ons gaan twee dae lank meeding en gemiddeld 30 keer per dag trek. Daarna kry ons twee dae tyd vir besigtiging– alles ’n groot voorreg.”

Vian se ouers, Machiel en Estelle Steenkamp, moet self instaan vir die reis- en verblyfkostes. Hulle kon deur borgskappe reeds R15 000 van die R20 000 insamel. Hulle werk in hierdie stadium hard daaraan om die res betyds te kan insamel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article