Marolie Smith kon dit nie glo toe sy ná ses jaar in kennis gestel is dat haar verlore verloofring in ’n plaasdam gevind is nie. Foto..s: Verskaf


Wonderwerke gebeur nog . . .

Dít was duidelik toe ’n Piketbergse seun se toevallige wandeling langs die oewer van ’n dam in ’n oomblik van vreugde uitgeloop het vir ’n gas wat ses jaar tevore haar kosbare verloofring verloor het.

Marolie Smith van Durbanville het haar diamant-verloofring destyds – in 2018 – by ’n plaaslike gastehuis, Lalaland op Piket-Bo-Berg verloor terwyl sy, haar man en vriende by die dam geswem het.

’n Soektog het begin met almal op die terrein, maar die ring het klaarblyklik in die dieptes verdwyn, wat min hoop gelaat het dat die kosbare ring ooit weer gesien sou word.

Die eienaars van die gastehuis het wel alles in hul vermoë gedoen om die ring op te spoor – selfs met die hulp van ’n metaalverklikker – maar dit was soos om ’n naald in hooimied te vind.

Ses jaar

Marolie vertel sy was baie hartseer nadat die verloofring, wat deur ’n vriend gemaak is, weggeraak het.

Sy het egter daarmee vrede gemaak en besef ’n verloofring is nie die kern van ’n huwelik nie.

Maar onlangs – net mooi ses jaar nadat die ring weggeraak het en ná ’n tydperk van swaar reën – is die dam leeggemaak om ’n nabygeleë boord te voed.

Terwyl die dam leeg geloop het, het die eienaars van die gastehuis se seun Noa van Schalkwyk (11) iets in ’n klein skeurtjie, wat deur die water uitgekerf is, sien skitter.

By nadere ondersoek het die nuuskierige seun die verlore ring gekry – wonderbaarlik nog perfek bewaar.

Aangesien die dam se water nog uitgesypel het, sou die ring waarskynlik net ’n dag later moontlik vir ewig weggespoel het.

Só het ’n reusesoektog plaasgevind om te probeer om die regmatige eienaar van die ring op te spoor, met die jong Noa aan die stuur.

Hulle onthou toe van die voorval ses jaar gelede en begin toe die soektog na die ring se baas, maar hulle kon nie die ou besprekingsbesonderhede opspoor nie.

Noa was egter vasberade in sy stryd en het ’n deeglike soektog deur ou WhatsApp-boodskappe begin, wat uiteindelik tot ’n leidraad gelei het.

Nadat hy ’n boodskap oor die verlore ring opgespoor het, het Noa die betrokkene gekontak en daarby ’n foto van die ring gestuur, wat aanvanklik met verwarring ontvang is.

Leidraad

Maar volharding het vrugte afgewerp toe die ontvanger van die boodskap onthou het dat ’n vriendin jare gelede haar trouring in Piketberg verloor het.

Met hierdie nuwe leidraad kon hulle Marolie opspoor.

Marolie vertel dat sy en haar gesin onlangs op ’n Dinsdag aandete geniet het toe hulle ’n WhatsApp-boodskap van Noa ontvang met ’n foto van die ring daarby.

“Ons was stomgeslaan. Ek het dadelik my verloofring herken. Ons kan dit steeds nie glo nie.”

Die Smith-gesin is kort daarna terug na Piketberg, waar die pragtige blink ring weer aan haar vinger geplaas is.

“Baie dankie aan Noa vir sy volharding om my op te spoor en met my ring te herenig. Ons is ook baie bly dat ons weer by die lodge was en sal gewis terug wees om nog te gaan kuier.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article