Die Wes-Kaapse polisie-orkes, wat deel is van die Suid-Afrikaanse polisiediens, het verrigtinge gedurende die begin van vanjaar se veiliger feesseisoen-program op die Bloues-rugbyveld in Malmesbury begelei. Foto: Charlotte Lesch


Met die feestyd om die draai – waartydens die Weskus as voorkeurkeuse onder vakansiegangers gedurende Desembervakansies bestempel word – het genl.maj. Bongani Maqashalala gedurende die amptelike bekendstelling van die SA polisiediens (SAPD) se veiligheidsprogram oor die komende feestyd klem gelê op die feit dat toerisme nie sonder veiligheid moontlik sal wees of kan floreer nie.

“Daar kan geen besigheid wees wanneer die veiligheid van vakansiegangers, toeriste en inwoners nie sekerheid geniet nie.”

Die geleentheid het Maandag (28 Oktober) op die Malmesbury-sportterrein plaasgevind.

Volgens Maqashalala, die Wes-Kaapse adjunk-polisiekommissaris, neem die vraag na geld gedurende die feesseisoen toe. “Inkopiegangers neem toe, winkelsentrums is vol, maar daarmee saam neem misdadige aktiwiteite ook toe terwyl meer kinders op straat gesien sal word,” het hy in die afwesigheid van die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, gesê.

Maqashalala het die uitvoerende burgemeester van die Swartland, die raadsheer Harold Cleophas, en die plaaslike gemeenskap van die Weskus in sy geheel die versekering gegee dat die polisie in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe gereed is vir enige voorval wat gedurende die komende feestyd kan plaasvind.

“Ons is daartoe verbind om ’n veiliger feestyd te verseker.”

Fokuspunte sluit onder meer geweld teenoor vroue en kinders in. Volgens hom is ’n toename in alkoholgebruik oor die vakansietydperk ook grootliks die oorsaak van geslagsgeweld. “Ons vra dat mense vanjaar verantwoordelik sal wees wanneer alkohol gebruik word.” Hy het klem gelê op die toename in afpersing, veral in die Wes-Kaap, en ’n versoek aan sakelui gerig om nie in dieselfde strik te trap nie. Veiliger paaie oor die vakansietydperk is vanjaar ook hoog op die program se lys voorkeure. “Bestuurders onder die invloed gaan geensins geduld word nie,” het hy bygevoeg. Hy meen padgebruikers kan hul staal vir talle padblokkades en inspeksies op die streek se paaie om die veiligheid van motoriste en inwoners gedurende die feestyd te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article