Dr. Fritz Zöllner (75), ’n gewilde veearts in Malmesbury sedert 2006 en ’n bekende in perdekringe, is gisteroggend (13 Mei) kort ná 07:00 dood in die tuin by sy huis in De Kockstraat deur die plaaslike polisie aangetref.
Boodskappe van medelye het intussen op sosiale media ingestroom soos die skoknuus oor Zöllner se dood soos ’n veldbrand versprei het.
Sy broer, Burckhard Zöllner het in ’n Facebook-plasing geskryf: “Rus in vrede, geliefde broer; gaan jou mis. Geskok en hartseer om jou te sien gaan.”
Die tragiese omstandighede rakende sy dood is in dié stadium nie bekend nie.
Zöllner het volgens sy profiel op die webblad van die Groenkloof-dierekliniek, waar hy as veearts gewerk het, ná sy matriekjaar as mediese tegnikus in ’n laboratorium gewerk terwyl hy twee internasionale diplomas nagestreef het. Hy het in 1986 as veearts gekwalifiseer en sy loopbaan by die Vetovs-dierekliniek in Bloemfontein begin.
Zöllner het grootliks met perde en beeste asook kleiner diere gewerk terwyl hy gedurende sy termyn daar by die plaaslike dieretuin uitgehelp het. Hy was ook oorsee waar hy van 1986 tot 1990 uitgebreide ervaring by verskeie gemengde- en perde-praktyke in die VK, Duitsland en Oostenryk opgedoen het. Terug op tuisbodem het hy tussen 2004 en 2006 by die Country-dierekliniek in Somerset-Wes en die Altena-dierekliniek in die Strand gewerk. Dit was nie lank daarna nie toe hy sy nuwe tuiste in die Swartland in Malmesbury gemaak het.
Zöllner het van 2006 tot Maart 2018 by die Malmesbury-dierehospitaal gewerk. In 2018 het hy by die span van Groenkloof-dierekliniek aangesluit. Hy was ook lid van die Suid-Afrikaanse Perde- veterinêre vereniging (SAEVA).
Geen misdaad word vermoed nie, het Malmesbury se polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, bevestig.





