Die Yzerfontein-inwoners André Huysamen en Tiaan Grundling het kragte saamgespan om hul nuutste enkelsnit, Vat my saam, vry te stel. Hierdie talentvolle duo, wat die liedjie self geskryf en gekomponeer het, se jongste lied delf in die dieper betekenis van ’n mens se bestaan en die reis buite die tydelike genot van die lewe.

Wat dit vir Huysamen nog meer spesiaal maak, is dat die lied op Vrydag 20 September op sy 40ste verjaarsdag op alle digitale platforms vrygestel sal word. Huysamen en Grundling is al twee uiters trots en passievol oor hierdie samewerking, en glo Vat My Saam sal by luisteraars aanklank vind en ’n genesende ervaring bied.

Volgens Huysamen verteenwoordig die lied sy lewensreis en nie sy bestemming nie. Grundling het bygevoeg dat die lied ’n diepgaande verband en ’n introspektiewe reis verteenwoordig. “Dit is binne jouself waar jy jou ware self en geluk ontdek – nêrens anders nie,” sê Grundling.

Dié kunstenaars sien daarna uit om hierdie liedjie die eerste keer voor ’n gehoor op te voer in die hoop om ’n diep verbintenis met elke gehoor te skep.

Hulle is verenig in hul oortuiging dat musiek mense bymekaar bring en staan vir liefde en eenheid in alles wat hulle doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article