In feitlik elke geselskap hoor ’n mens deesdae hoe gewone landsburgers baie oplossings vir ons land se krisisse het. Eskom, die departemente van gesondheid, onderwys, verdediging, plaaslike regering – noem maar op; Jan Alleman beskik oor al die antwoorde.
Ongelukkig luister ons regering nie graag na kenners of goedbedoelde raad nie.
Ons kan egter binne ons daaglikse kring ’n verskil begin maak.
Sodra elkeen van ons voor ons eie deur begin vee, kan ons in ons onmiddellike omgewing ’n groot verskil maak. Maar dan moet ons meer selfdissipline gebruik: Stop (regtig) by die stopstraat, ry stadiger as die verkeerslig oranje raak, betaal jou rekeninge, betaal jou personeel se salarisse op die dag waarop hulle op daardie betaling geregtig is en voordat jy as eienaar vir vakansie of vir altyd van jou onderneming af vertrek, al is dit moeilik. Personeellede maak immers staat op hul inkomste (nes jy).
Terwyl ek en jy so baie planne het vir staatsdepartemente, skole en munisipaliteite, is Januarie ’n goeie tyd om te besin: Is jy dalk daardie werknemer wat heeltemal te veel smokebreaks vat of te gereeld op jou selfoon kuier? Soek jy ’n eerliker regering en eerliker sakemanne? Wees eerstens self onbesproke in jou gedrag en transaksies.
Is jou woord jou eer?
Kom jy jou beloftes na teenoor jou kind, kliënt, huweliksmaat en kollegas, of is die verwagting dat ander mense hul woord moet nakom slegs belangrik as dit tot jou voordeel is?
Dis nogal moeiliker om hand in eie boesem te steek en hier rondom jou voordeur dinge reg te doen, as om raad te hê vir alles en almal wat doer ver van ons af funksioneer.
Hieroor het wyle aartsbiskop Desmond Tutu gesê: “Do your little bit of good where you are; it’s those little bits of good put together that overwhelm the world.”
Waarom bly ons stil as ons weet ons buurman, kennis of kollega is ’n wanbetaler van huur, sy kinders se onderhoud en ander verpligtinge? Raak ons nie self aandadig as ons dit stilweg verduur nie?
“If you are neutral in situations of injustice, you have chosen the side of the oppressor,” het Tutu altyd gesê.
Laat ons saamstaan teen onreg – só kan ons omgewing ’n nog lekkerder plek raak om in te woon.



