Ná meer as 70 jaar het ’n vervalle struktuur teen die hange bo die hawegebied nuwe lewe gekry.
Daarmee is ’n jarelange droom van die Yzerfontein-toerismekomitee ook vervul toe hulle Vrydag (19 Julie) die nuwe uitkykpunt in Yzerfontein vir besoekers en inwoners amptelik kon oopstel.
Die uitkykpunt teen die hange bo die Yzerfontein-hawegebied was ’n passieprojek van Yzerfontein se toerismekomitee om ’n vervalle struktuur wat destyds watertenke van ’n visfabriek gehuisves het, om te skep in ’n plek waar inwoners en besoekers panoramiese uitsigte van die hawe, see en dorp en ’n rustige omgewing vir meditasie en ontspanning kan geniet.
Volgens Henk Bruwer, voorsitter van Yzerfontein-toerismekomitee, het die projek nie oornag gebeur nie en is dit ’n droom wat met tyd en al die betrokke rolspelers se inkoop vorm aangeneem het.
Dit het onder meer ingesluit die skoonmaak van die omgewing, die verwydering van graffiti, die restourasie van sitbankies, die installering van ’n afdak, ligdiodeligte en veiligheidskameras, die oprigting van naam- en aanwysingsborde en die opgradering van die wandelpaadjie op die toegangsroete in samewerking met Bewarea. Tot op datum het die projek ’n koste van R165 000, waarvan R40 000 geskenk is, beloop. Die uitkykpunt bied ook ’n plek vir mense wat geliefdes verloor en wil eer, om gedenkplaatjies met ’n boodskap te koop en teen die muur op te sit. Dit geld ook vir inwoners en besoekers wat hul verblyf of besoek aan Yzerfontein wil herdenk deur hul gunstelingherinnering of bloot hul liefde vir die dorp daarop wil uitdruk.
Tot op hede is 63 plaatjies verkoop en hier aangebring. Die doel hiervan is grootliks om geld vir Yzerfontein-toerisme te genereer om die uitkykpunt in stand te hou en ook vir ander projekte in die dorp aan te wend om toerisme te bevorder.
Dawie Scholtz, tesourier, wat ’n groot dryfkrag agter die projek was, het by die geleentheid gesê hy hoop die uitkykpunt sal een van die topdrie-aantrekkings in Yzerfontein word.
Vir meer inligting kontak die Yzerfontein-toerismekantoor by yzerfontein@swartlandtourism.co.za





