Die moordbeskuldigde van Abbotsdale, David Joja, is onlangs tronkstraf van tien jaar opgelê.
Die vonnis is Woensdag 4 November ná byna ’n jaar in die Malmesbury-streekshof opgelê.
Joja is in September verlede jaar op ’n aanklag van moord in gehegtenis geneem.
Die voorval het op 10 September 2022 in Illingelethu plaasgevind toe Joja sy slagoffer, Novathile Vonqo, in die nek gesteek het. Vonqo se beserings was noodlottig van aard en hy is op die toneel dood verklaar.
Die plaaslike polisie van Malmesbury was volgens die polisiewoordvoerder kapt. Marko Heydenrych suksesvol in hul ondersoek nadat die moordbeskuldigde enkele ure ná die voorval aangekeer is.
Danksy deeglike ondersoek deur sers. Horn van die Malmesbury-speurtak het Joja tot sy vonnisoplegging in aanhouding gebly.
Die stasiebevelvoerder, kol. Benjamin Gqabi, het die ondersoekbeampte geloof vir sy uitstekende speurwerk deur te verseker dat die beskuldigde sy dag in die hof kry.
Gqabi het dit duidelik gemaak wetteloosheid sal nie geduld word nie en die polisie sal nie huiwer om teen misdadigers en oortreders op te tree nie.



