Twee verdagtes is verlede Maandag (17 Oktober) in twee afsonderlike voorvalle van geslagsgeweld in hegtenis geneem.
Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder sers. Johnatan Filander is die eerste verdagte, ’n 32-jarige man, weens die poging tot moord op sy vriendin in hegtenis geneem nadat hy haar glo ná ’n stryery in die gesig geslaan en met ’n okapi-mes in die bors gesteek het.
“Slegs een steekwond is gevind. Die slagoffer is na ’n plaaslike hospitaal geneem, waar bevind is dat haar een long platgeval het,” het Filander verduidelik.
Die verdagte is deur die Malmesbury-polisie in hegtenis geneem toe hy sy beseerde vriendin in die hospitaal besoek het.
Later dieselfde dag het polisiebeamptes ’n 34-jarige man in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy vriendin verkrag het.
Filander het gesê die twee het glo gestry en die verdagte wou die slagoffer se klere in die straat uitgooi.
Volgens Filander het die verdagte daarop aangedring dat die slagoffer hom eers ’n seksuele gunsie moet bewys voordat hy vertrek, wat sy geweier het. Hy het haar toe na bewering op die bed vasgepen en verkrag.
Die slagoffer is hospitaal toe geneem, waar sy ingevolge ’n standaardprosedure in ’n seksuele ondersoek vir forensiese bewyse ondersoek is.
Die dossier is vir verdere ondersoek na die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Vredenburg gestuur.
Beide verdagtes het Woensdag (19 Oktober) in die Malmesbury-landdroshof op bogenoemde aanklagte verskyn.
Die sake is albei met ’n week uitgestel wanneer die verdagtes formeel om borgtog kan aansoek doen.
Hulle bly in aanhouding.


