’n Man (33) is Woensdag (8 Junie) op die N7 naby Moorreesburg in hegtenis geneem nadat meer as R30 000 se Mandrax-tablette in ’n voertuig gevind is.

Volgens sers. Nicolette Visagie, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is polisiebeamptes wat patrolliewerk in die gebied gedoen het, na die N7 ontbied nadat inligting ontvang is oor ’n voertuig waarin dwelms vervoer word. Die voertuig is voorgekeer en by nadere ondersoek het beamptes op 660 Mandrax-tablette met ’n straatwaarde van R33 000 asook geld afgekom en daarop beslag gelê. Die verdagte het Donderdag 9 Junie op ’n aanklag van handel in dwelms in die plaaslike landdroshof verskyn.

In ’n ander voorval is ’n 30-jarige man vroeg Woensdagoggend in hegtenis geneem nadat hy in besit van vermoedelik gesteelde eiendom betrap is.

Visagie sê beamptes het patrolliewerk gedoen toe hulle omstreeks 02:35 Woensdagoggend ’n klagte ontvang oor twee mans wat by ’n huis probeer inbreek. Een van die beamptes het te voet na die verdagtes begin soek terwyl sy kollega in die polisievoertuig gesoek het. ’n Man is in Kerkstraat, Moorreesburg met ’n rugsak gesien en voorgekeer. Nadat die polisiebeampte homself identifiseer het, het hy die rugsak deurgesoek en koperpype, krane, ’n skroewedraaier, skuifmoersleutel, ’n mes en ander huisinbraaktoerusting gekry.

Die beamptes het inligting wat deur die verdagte verskaf is oor waar hy glo die goedere gekry het, asook sy woonadres, nagespeur, maar die inligting was vals.

Die polisie het bevestig dat die goedere wat in sy besit gevind is, inderwaarheid gesteel is.

Die man het Donderdag 9 Junie in die Moorreesburg-landdroshof op aanklag van die besit van gesteelde goedere en huisinbraakimplemente verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article