’n Gesamentlike padblokkade tussen die Darling-polisiestasie en lede van die Swartland-wetstoepassings-owerhede is op 16 Mei by die kruising tussen Darling en Yzerfontein op die R27 gehou. Die padblokkade is onder meer in samewerking met die Swart-land K9-eenheid, plaaslike sekuriteits-firmas, die kabeldiefstaleenheid, die Yzerfontein-buurtwag, Milnerton-polisiestasie, die landelike veiligheids-eenheid en lede van die departement seevissery uitgevoer.
Volgens Darling se polisiewoordvoerder, sers. Johnatan Filander, word dit as die hoofroete vir die vervoer van onwettige dwelms, vuurwapens, perlemoen en kreef bestempel. Hy het die padblokkade as ’n groot sukses beskryf. “Die padblokkade het ’n impak gehad en talle voertuie is voorgekeer,” voeg hy by.
Verskeie ongelisensieerde bestuurders en bestuurders met ongelisensieerde voertuie is voorgekeer en gevolglik met swaar boetes opgelê, terwyl twee inhegtenisnames ook plaasgevind het. Een verdagte is vir die besit van heroïne en ’n ander vir dronkbestuur in hegtenis geneem.





