Van ’n wêreldkampioenatleet na ’n wrak . . . Só beskryf Lerine (Heleen) Bester (62) van Moorreesburg haar lewe nadat sy op 3 Julie vanjaar vroegoggend wreed deur drie honde aangeval, gebyt en byna verskeur is.
Bester, ’n voormalige driekampatleet wat tot sowat drie maande gelede steeds daagliks geoefen het, was tot onlangs nie gereed om te praat oor die voorval wat haar hele lewe in ’n oogwink verander het nie.
Bester en haar een seun het vroeg die oggend op die Bottelfontein-pad buite Moorreesburg gaan fietsry. Die son het net-net sy kop begin uitsteek toe drie groot honde uit ’n plaaswerf op haar afgestorm en haar skielik van haar fiets afgeruk en begin aanval het. Die honde het haar aan die nek en die grootste deel van haar liggaam gebyt. “Hulle het gebyt om dood te byt,” was een van haar eerste gedagtes.
Redding
Bester het terugbaklei en die honde met haar hande in stewige fietsry-handskoene van haar probeer wegkry. As dit nie vir haar dik warm klere, fietsryhelm en dik handskoene was nie, het sy veel erger beserings opgedoen, voeg sy by. Haar seun, wat in daardie stadium vooruit gery het, het nie besef wat besig was om met sy ma te gebeur totdat hy besef het hy is alleen nie.
Twee plaaswerkers van ’n nabygeleë plaas het Bester gehoor skree en te hulp gesnel deur die honde van haar af weg te kry.
’n Plaasbestuurder het haar in sy bakkie gelaai en dokter toe gehaas saam met twee plaasvoormanne wat haar ondersteun het.
vertel sy verder.
Bester is vandaar per ambulans na die Swartland-hospitaal geneem en kort daarna na die Mediclinic Paarl oorgeplaas. ’n Drie uur lange operasie het gevolg nog voordat Bester oor die ergste skok van daardie paar uur se gebeure kon kom. Sy het ’n ongelooflike vyftig bytmerke aan haar lyf opgedoen.
Hoewel Bester kort daarna ontslaan is, was traumabehandeling en fisioterapie haar voorland vir die volgende paar maande. Sy moes ook haar wonde twee keer per week by die plaaslike wondekliniek in Malmesbury laat skoonmaak.
Maande het intussen verbygegaan, maar Bester ervaar nog “elke oomblik van elke dag” ongemak. Sy spreek haar dankbaarheid teenoor die medici vir uitstekende behandeling uit. Hoewel sy by sommige van die bytplekke geen gevoel het nie, het sy geen infeksie opgedoen nie.
Die voorval is volgens Bester nog dieselfde dag by die polisie in Moorreesburg aangemeld, al kon sy nie self by die polisiekantoor kom nie. “Die polisie was op 5 Julie by my huis, maar ek het geen saaknommer ontvang nie.”
Swemlesse
Bester, wat voorheen swemlesse vir kinders aangebied het, was genoodsaak om lesse te staak weens die aard van haar beserings. Sy meen die gevolge van die aanval het tot baie verder as net haarself uitgekring. Volgens Bester het haar gestaakte swemlesse ’n finansiële uitwerking op haar en die eienaar van die swemskool gehad. Van haar seuns het onder meer ook namens haar rekeninge betaal. “My kinders wil my uit liefde help, maar dit is nie reg nie.”
Bester, wat nie oor ’n mediese fonds beskik nie, vertel hoe die verlies aan inkomste erge finansiële druk veroorsaak het. Sy het selfs haar een voertuig verkoop om onkostes te help dek, voeg ’n emosionele Bester by.
Hoewel ’n prokureur genader is wat haar seuns aangebied het om namens hul ma te betaal om die saak te hanteer, kon sy dit nie oor haar hart kry nie. Intussen gee sy ’n front voor en probeer om vir haar drie seuns so sterk as moontlik voor te kom, voeg sy by.
Bester begin eersdaags haar swemlesse hervat, maar slegs vir ’n halwe dag. “Dit gaan moeilik wees. Ek gee lesse vir kinders, voor wie ek opgeruimd en vriendelik moet wees,” vertel sy hartseer. “Sport is my lewe,” voeg sy met ’n glimlag by.
Bester was ná die aanval veral bekommerd oor wie moontlik die betrokke honde se volgende slagoffer gaan wees. “ ’n Kind sou nie ’n kans gestaan het nie. Hulle het my verskeur.”
Bester bieg en vertel dat depressie haar lewe oorgeneem het. “Ek het die volle Ysterman gedoen, maar ek kan nie oor dit kom nie. My man is in 1997 oorlede en ek het ons drie seuns alleen groot gemaak. Dit was alles nog oukei, maar nie hierdie nie. Die voel of my lewe onder my uitgeruk is.
vertel sy met ’n bewerige stem.
Volgens Bester het sy by die polisie van nóg ’n vroue-atleet verneem wat gedurende Mei die vorige jaar glo deur dieselfde honde aangeval is. “Ek voel wat met my gebeur het, dit kon vermy gewees het. Almal op die plaas is reeds ná die eerste honde-aanval gewaarsku.”
Die eienaar van die plaas waar die honde ten tyde die voorval was, was in daardie stadium weg op vakansie. Die boer het ná haar operasie in ’n stemboodskap met haar situasie gesimpatiseer en gesê hy is jammer dat hy nie teenwoordig was nie. Met die plaaseienaar se terugkeer is ondersteuning en hulp via ’n stemboodskap aangebied deur enige mediese rekeninge na die betrokke eienaars van die honde te stuur. Die boer het in sy stemboodskap bevestig die eienaars van die honde is reeds deur homself, die polisie en die DBV gewaarsku om die nodige veiligheidsmaatreëls toe te pas.
Eienaars
Die betrokke eienaars van die honde – glo plaasvoormanne – het op hul beurt een keer ná die voorval kontak gemaak waartydens hulle bevestig het dat hulle ’n rekening ontvang het. Die een eienaar van die honde het in dieselfde boodskap gevra dat sy hulle sal kans gee om ’n lening aan te gaan om die mediese onkostes te betaal. Bester het egter nie weer van hulle gehoor nie. Sy neem hulle ook nie kwalik nie, omdat sy die betrokke prokureur gevra het om terug te staan weens regskostes.
Dit was vir Bester belangriker om ’n goeie verhouding met haar seuns te behou, eerder as om van hulle te verwag om die regskostes te dra. Sy is wel teleurgesteld dat niemand betrokke by die voorval nog vir haar gevra het hoe dit gaan nie. Haar antwoord sou eenvoudig wees. “Dit is asof die wêreld gaan stilstaan het,” voeg sy by.
Bester het intussen verneem dat die betrokke honde glo onlangs uitgesit is.
Die Swartland- en Weskus-dierebeskermingsvereniging het aan die Gazette bevestig dat hulle van die voorval bewus is. Volgens die DBV is hulle nie by regte om direk met voorvalle waar honde mense gebyt het, betrokke te raak nie. “Hoewel ons inspekteurs die wet op diereregte bevorder, mag ons nie honde verwyder wat iemand gebyt het nie, behalwe as daar kommer is oor duidelike gebrek aan dierewelsyn met betrekking tot die diere.” Volgens die DBV het hulle die betrokke honde ondersoek. Die honde was glo ná die voorval aan kettings vasgemaak. “Ongelukkig is dit nie onwettig om honde vas te bind nie, hoewel ons ten sterkste teen die praktyk gekant bly,” voeg die DBV by.
Nie een van die beweerde eienaars van die betrokke honde het op die Gazette se navrae oor wat daardie dag gebeur het, reageer nie. Die Gazette kon ook nie by hulle bevestig wanneer die honde na bewering van kant gemaak is nie.
Die plaaslike polisie kon tot nou geen terugvoer oor die ondersoek verskaf nie.





