GALWAY, IRELAND – APRIL 08: Detailed view of a Champions Cup Match Ball ahead of the Heineken Champions Cup Round of 16 Leg One match between Connacht Rugby and Leinster Rugby at The Sportsground on April 08, 2022 in Galway, . (Photo by Oisin Keniry/Getty Images)


Die Boland-rugbyunie (BRU) het 37 aansoeke ontvang, waaronder hoogs ervare asook toetsafrigters se name, vir die pos as sy hoofafrigter.

Die verteenwoordigers van Remgro (37%-aandeelhouer), die Motsepe-groep (37%-aandeelhouer) en Boland (26%-aandeelhouer) sal binne die volgende twee weke onderhoude met van die aansoekers begin, waarna die aanstelling op 1 Maart verwag word.

Dit kan egter glo so vroeg as 1 Februarie wees, afhangende of die geskikte afrigter nog elders gekontrakteer is of nie.

Die suksesvolle kandidaat sal vir twee jaar aangestel word, met die uitvoerende hoof van die Boland, Quintin van Rooyen, wat ’n belangrike rol in die proses sal vervul.

Die Boland wil geen name van enige van die aansoekers bekend maak nie, aangesien die kandidate by hul huidige werkgewers benadeel kan word as hulle nie aangestel word nie.

Die Boland is verheug oor die gehalte van afrigters wat aansoek gedoen het. Baie van die afrigters wat aansoek gedoen het, onder wie bekendes, wou eers duidelikheid by die Boland verkry of hulle vorentoe slegs ’n voedingsbron vir die Bulle word. Remgro en die Motsepe-groep is ook die Bulle se aandeelhouers.

Van Rooyen-hulle moes dit toe uitstippel dat die Boland mik na deelname aan die Premierliga van die Curriebeker-reeks. Die Boland sal daarna nuwe doelwitte stel.

Bennie van Rooi, die president van die BRU, skryf intussen op sy unie se Facebook-blad die begin van ’n nuwe jaar is altyd vol verwagtinge en voornemens.

“Ek is seker as ons aan die begin van 2023 gevra is wat ons verwagtinge vir Boland is, sou min kon voorspel watter opwindende jaar op die passievolle rugbygemeenskap van die Boland wag,” skryf Van Rooi.

“Daar is altyd beplanning, onderhandelinge met borge en harde werk agter die skerms, waarvan min mense weet –harde werk wat nie sommer die gewenste resultate oplewer nie.

“Wanneer vennote soos die Stellenbosch Akademie van Sport (SAS), ’n filiaal van Remgro Beperk en die Motsepe-konsortium, hulself as gelyke vennote tot Boland-rugby verbind, en hul vertroue in Boland-rugby met ’n massiewe inspuiting van bronne en geld onderskryf, dan word jou stoutste verwagtinge oortref.

“En wanneer ’n korporatiewe reus soos Sanlam hom tot ’n borgskap van drie jaar van die prestigeryke Top-12 verbind – enig in sy soort in Suid-Afrikaanse klubrugby om die standaard van die kompetisie tot nuwe hoogtes te dra – dan besef mense hoewel sulke verwagtinge nie naastenby aan die begin van 2023 realisties haalbaar gelyk het nie, is dit harde werk oor baie maande wat drome ’n werklikheid maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article