Hjalmar Rall (19), die slimkop van Riebeekvallei wat sy skoolloopbaan by die Christelike Privaatskool op Malmesbury begin het, is op pad na Duitsland. Waar sommige op daardie ouderdom oorsee gaan en die wêreld vir ’n welverdiende breek gaan verken, begin hy eersdaags egter aan sy doktorsgraad aan die Tegniese Universiteit van München (Munich) werk.
Hjalmar was tot in Graad 3 by CPM, vanwaar hy na Laerskool Riebeek-Kasteel oorgeskuif het. Hjalmar het nog destyds vertel hy het wel sy skooljare geniet, maar was nie regtig daarvoor uitgeknip nie. Volgens hom was die klasse net te groot. Hy het op 11-jarige ouderdom, onder die wakende oog van sy pa, Heinrich, met tuisonderrig begin nadat sy ouers besef het dit sou die beste opsie vir hom wees. Hulle het sedertdien nooit weer teruggekyk nie.
Hjalmar het matriek op 12-jarige ouderdom met ’n A-gemiddelde in Engels, wiskunde, chemie en fisika geslaag en reeds op 13 sy Cambridge A-vlakke (ekwivalent aan graad 12), geslaag. Sy uitslae is destyds met roomys gevier.
Hy het as 14-jarige met sy B.Sc-graad in fisika aan die Universiteit van Pretoria begin, waar hy ook sy honneursgraad voltooi het. Sy ouers het nog Pretoria toe verhuis om hom by te staan, maar is nou terug in die vallei.
Hjalmar het intussen sy meestersgraad in fisika aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Dit het gehandel oor die doeltreffende kwantumkommunikasie wat op die eerstegenerasie-kwantumnetwerke wat in die volgende vyf tot tien jaar gebou gaan word, van toepassing is, verduidelik hy.
Nou – vyf jaar later – is hy op pad Duitsland toe.
Die Munich Quantum Valley, ’n inisiatief tussen die Beierse regering en die München-universiteite, om kwantumtegnologie te bevorder, het vroeër vanjaar ’n navorsingsbeurs aan Hjalmar toegeken. “Ek het vir die navorsingsbeurs aansoek gedoen aangesien die teoretiese kwantumnavorsingsgroepe in Munich spesifiek op toepassings van die teorie fokus. Dit is presies die rigting waarin ek studeer,” vertel hy opgewonde.
Hjalmar verduidelik dat hy dáár probleme aan die voorpunt van kwantuminligtingsteorie, soos foutverdraagsaamheid en meerdelige verstrengeling, vanuit ’n wiskundige oogpunt – maar met ’n oog op toepassings – gaan bestudeer. “Ek is juis geïnteresseerd in kwantum-inligting, omdat die wiskunde uiteindelik praktiese kwantumrekenaars ’n moontlikheid gaan maak.”
Dié jong student sien die meeste daarna uit om deel te wees van die navorsingsgemeenskap aan die begin van die era van kwantumrekenaars. “Die veld is nuut en opwindend, en daar is ongelooflike interessante probleme om op te los,” vertel hy verder met oorgawe.
Sy doktoraat duur drie jaar, maar tyd is nie nou vir hom ’n faktor nie.
“Dit hang alles af van hoe die veld ontwikkel,” sê hy.
Volgens hom het sy jong ouderdom tydens sy jare by Tukkies nie regtig ’n verskil gemaak nie. “Die groepie fisikastudente het my altyd ingesluit, en die eerste maand of drie was ek net nog een van die studente.”
Hjalmar sonder sy ouers uit, wat hom nog deurlopend ondersteun.
Prof. Walter Meyer by Tukkies en prof. Mark Tame, sy promotor vir sy meestersgraad by die US, was van die individue wat hom baie met sy studies en navorsing gehelp het.
Prof. Meyer, wat onder meer fisika by Tukkies aanbied, was met hul eerste ontmoeting op kampus aanvanklik bekommerd oor of Hjalmar intelektueel en emosioneel gereed was om so ’n groot sprong te neem. Hy het egter vinnig besef dié leerder is besonders. “Maar hy het vinnig vriende gemaak en was deel van die groep.” Volgens hom het sy ouers se ondersteuning ’n deurslaggewende rol in sy sukses gespeel. “Ondersteuning van ouers vir enige student is deurslaggewend in hul sukses,” verduidelik hy.
Prof. Meyer kan twee kere onthou toe Hjalmar baie moeg was, maar vertel hy was altyd ’n fees in die klas – altyd entoesiasties, lus vir alles, passie vir fisika, leergierig en bereidwillig. “Ek het geen twyfel dat hy suksesvol gaan wees nie, ongeag wat hy eendag gaan doen.”
Hjalmar het baie drome, maar wil uiteindelik net ’n bydra tot sy veld lewer. “Ek dink kwantumrekenaars gaan eendag ’n positiewe invloed op die wêreld hê, en enigiets wat ’n mens in kwantuminligtingsteorie doen, gaan daartoe bydra,” sê hy, en voeg by hy het ook ander belangstellings en talente buiten kwantumrekenaars. “Ek luister belaglik baie musiek en kuier met vriende as ons tyd kry,” vertel hy.
Hjalmar het op 14-jarige ouderdom gesê hy het op skool nogal van kuns gehou. Dit het intussen nog nie verander nie. “Ek het nie ’n besondere gawe daarvoor nie, maar geniet dit om kitaar te speel en portrette te skilder. ’n Mens besef dit nie, maar fisika en suiwer wiskunde is kreatiewe prosesse. Ek hou van kuns en van my werk weens grotendeels dieselfde redes,” voeg hy by.
Prof. Meyer, wat self op ’n jonger ouderdom reeds universiteit toe gegaan het, beklemtoon Hjalmar is ’n uitsondering en is inderdaad “baie intelligent”. Hy sê wel baie kinders het soortgelyke talente, maar dit word nie noodwendig ontgin word nie. Volgens hom behoort skole vandag meer daarop te fokus om kinders se sterk kenmerke uit te ken deur hul talente van ’n jong ouderdom af te koester. Volgens hom het Hjalmar ’n groot voorsprong as ’n leerder met tuisonderrig gehad. “Hy het geleer om doeltreffend te wees.”
Prof. Meyer sê Suid-Afrika moet die gehalte wat hier is, ontgin. “Suid-Afrika hoef nie terug te staan vir die res van die wêreld nie. Hier is gehalte wat ontgin moet word en ons moet reg staan om hulle te ontvang.”





