Twee bendelede is Donderdag 27 Oktober deur die Robertson-streekhof elk tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis weens die verkragting van ’n 19-jarige vrou in 2017.

Edmund Plaatjies, ’n lid van die 28’s-bende, en Elvin Jantjies, ’n lid van die Junior Cisko Yankies-bende, is elk op drie aanklagte van verkragting skuldig bevind en onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.

Eric Ntabazalila, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se streekkommunikasiebestuurder, het aan Gazette gesê die aanklaer het ook die slagoffer ingelig van haar regte om ’n vertoë tot die Kommissaris van die Departement van Korrektiewe Dienste te rig wanneer die beskuldigdes vir parool of korrektiewe toesig oorweeg kan word.

“Die hof het verder die onmiddellike beslaglegging geëis op alle vuurwapens, ammunisie, bevoegdheidsertifikate, lisensies, permitte en magtigings wat aan die beskuldigdes uitgereik is.”

Elton Willemse, die aanklaer, het aan die hof gesê die beskuldigdes het die destyds 19-jarige slagoffer genader toe sy buite gestaan het terwyl sy ’n sosiale byeenkoms saam met vriende en haar kind in Silverstrand, Robertson, bygewoon het.

“Sy het albei die mans geken. Hulle het haar na die wingerde gesleep waar hulle haar om die beurt verkrag het. Hulle het haar gyselaar gehou en haar met die vuis geslaan. Sy is met veelvuldige wonde en kneusplekke aan haar gesig, arms en hande, skeure op haar onderlip en geweldig baie emosionele trauma gelaat.”

Die slagoffer-impakverslag, wat deur Estelle Adams saamgestel is, het aangedui dat sy geskok gelaat is aangesien sy albei mans ken en nie verwag het hulle sou haar verkrag nie.

Die slagoffer het glo ook nagmerries en terugflitse van die voorval ervaar en het ’n uiterse vrees vir mans ontwikkel. “Sy hou steeds nie van mans nie en voel ongemaklik in hul teenwoordigheid. Sy het geweet haar lewe sou ná die voorval nooit weer dieselfde wees nie,” het Ntabazalila bygevoeg.

Willemse het tydens sy argumente in die hof ’n prentjie geskets van mans wat nie berou of spyt het oor hul dade nie.

“Die beskuldigdes het ook geglo hulle is onskuldig en wou nie verantwoordelikheid aanvaar vir hul gruwelike misdade nie.”

Willemse het verder aan die hof gesê Plaatjies (30) het vorige veroordelings en vonnisse vir strafbare manslag en poging tot verkragting.

Jantjies (27) het ook vorige veroordelings vir onder meer dwelmgebruik en die gebruik van ’n voertuig sonder die eienaar se toestemming, wat in 2016 gepleeg is.

Die aanklaer het ook aangevoer Plaatjies se vorige vonnisse het nie as ’n doeltreffende afskrikmiddel gedien nie, aangesien hy hierdie misdrywe slegs 10 maande ná sy parool in September 2016 gepleeg het.

“Hy het twee vorige skuldigbevindings van poging tot verkragting – sowat vier jaar uitmekaar – teen hom en dit kan dus gesien word dat hy ’n geneigdheid het om seksuele misdrywe te pleeg. Hy het ook aan Jantjies voorgestel dat hulle die slagoffer moet doodmaak, en toe gedreig om haar en haar kind dood te maak as sy iemand vertel van wat met haar gebeur het. Die gemeenskap moet beskerm word teen sy gewelddadige gedrag, en die enigste manier is deur tronkstraf,” het Willemse gesê.

Jantjies is na bewering ewe verantwoordelik vir die pyn en lyding wat die slagoffer moes verduur, aangesien hy aktief betrokke was om haar te gryp, die wingerde in te sleep, haar aan te rand, te bedwing en te verkrag.

“Jantjies was in ’n verhouding met die slagoffer se stiefma en het ’n morele verpligting gehad om haar teen leed te beskerm. Hy het in algehele minagting van haar welstand opgetree, en weens die erns van die oortreding, moet hy ook uit die samelewing verwyder word.” het Willemse aangevoer.

Ná deeglike oorweging het die hof saamgestem met die sterk argumente van die aanklaer en die beskuldigdes aan al die oortredings skuldig bevind en dienooreenkomstig gevonnis.

Na aanleiding van die vonnis het Willemse gesê hierdie vonnis moet ’n sterk boodskap stuur aan diegene wat dink hulle kan met verkragting en ander grudade wegkom.

“Gevolge wag op diegene wat ons moeders en dogters in ons gemeenskappe verkrag en aanrand. Ons bly daartoe verbind om die skuldiges van hierdie vulgêre en sinnelose dade van geweld ten volle te vervolg tot die volle omvang van die wet en mense wat hierdie misdade aanmeld, te bemagtig.”

Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, advokaat Nicolette Bell, het die vervolging- en ondersoekspanne geprys vir die prysenswaardige werk wat hulle gedoen het om die vonnisse en opdragte wat die hof gevel het, te verseker.

“Ek stem saam met die sentimente wat deur die aanklaer gedeel word, en ek wil byvoeg dat ons sal voortgaan om die plaag van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord kragtig te vervolg, aangesien dit die reg op waardigheid aantas,” het Bell gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article