Twee leerders van Riverlands Primêre Skool, Mcail Jonkers (14) en Temecke Smith (12), het onlangs die skool by die Boland-landloop-kampioenskap in George verteenwoordig.
Temecke, ’n gr. 6-leerder, is na afloop van die Boland-landloopkampioenskap in die WP-span ingesluit.
Sy hardloop reeds van gr. R af en het op sewe- en agtjarige ouderdom die Boland-o.9-span twee jaar ná mekaar gehaal.
Die WP-span vertrek op 27 September na Limpopo om aan die nasionale kampioenskap op 30 September deel te neem.
Mcail kon die wedloop ongelukkig weens ’n steekpyn in sy bors nie voltooi nie. Hy het hierdie jaar met groot geesdrif begin oefen nadat hy in 2022 net-net nie ’n plek in die Boland-span gehaal het nie en sy visier gestel om die naasbeste in die Boland te wees.
Die skool bedank almal wat hierdie jaar ’n rol vervul het met afrigting, administrasie en toesighouding, asook die ondersteuners.
Die skool het ook ’n spesiale dank gerig aan hul ontslape hoof, J.B Saunders, vir die geleenthede wat hy gedurende sy tyd by die skool aan soveel kinders gebied het.





