Carrie Lategan van Malmesbury, wat op 6 Oktober 1923 gebore is, het vroeër vandeesmaand haar 100ste verjaarsdag gevier.
“Haar verstand is nog helder, haar geheue puik en sy lees sonder ’n bril,” vertel haar trotse dogter Carrien Jacobs (60), wat haar ma as hul rots beskryf.
Tannie Carrie, wat in Malmesbury in Arcadiastraat grootgeword het, was een van vyf kinders van ’n destydse NG kerk-predikant, Christian Abrahams, en sy vrou, Rachel. Sy het besluit om die NG-sending-kerkskool aan die einde van standerd ses (gr. 8) te verlaat om opleiding in verpleegkunde te gaan nastreef. As een van slegs twee dogters, het die verantwoordelikheid op haar neergekom toe haar ma siek geword het. Vandag is sy die enigste oorlewende van haar suster en drie broers. “Sy het haar ouers al die jare so goed opgepas,” voeg Jacobs by.
Dit is ’n lang pad wat Tannie Carrie geloop het om dié ouderdom te bereik. Oor die jare het sy baie beleef. Volgens Jacobs was dit ook nie altyd maklik nie. Sy was ’n enkelma wat haar twee kinders grootgemaak het. “My ma het by tye swaargekry, maar was nog altyd dankbaar teenoor die Here vir haar geseënde lewe.”
Haar 100ste verjaarsdag en ’n gesonde liggaam word toegeskryf aan die Here. “Dit is net genade.” En net soos die Bybelvers, Spreuke 6 vers 31 lui: “Jy sal die kroon dra as jy reg lewe,” het Tannie Carrie haar lewe gelei – getrou en gehoorsaam aan die Here.
Sy is vandag die oudste lid van onder meer die VGK-gemeente in Malmesbury en die Goue Aar-dienssentrum, wat haar beskryf as ’n aktiewe lid wat aan alles deelneem. Sy gaan tans by haar oudste seun, Werner, tuis, staan steeds self op en vind maklik haar eie pad, hoewel die hulp van ’n loopring vereis word.
Sy het sewe kleinkinders en sewe agterkleinkinders. Haar enigste twee begeertes in die lewe is dat haar kinders alles het wat hulle op die aarde nodig het en dat hul sake met God reg is. “Ek luister na wat my ma sê, want sy het soveel wysheid om oor te dra. Wanneer jy by haar ouderdom kom, besef jy wat regtig belangrik is in die lewe,” sê Jacobs.
Tannie Carrie het haar 100ste verjaarsdag saam met almal wat vir haar omgee, gevier.





