Ons familie se etenstye as gesels- en lagtyd kom van kleintyd af. Al moes ek soms wónder waarom my ma sekere stories oor middagete vertel: “Hierdie boontjies kom van oom Willem Skorsie se plaas af.” Of “Dis die laaste appels uit Prince Alfred Hamlet”.
’n Plaas buite Prince Alfred Hamlet was my ma se heimat. Genestel teen die prentjiemooi Gydo-pas buite Ceres, daar het sy grootgeraak in ’n omgewing van vrugte en vrede, vanwaar my pa haar as sy bruid gaan haal het.
Op hul Karooplaas in die Matjiesfontein-omgewing was die lewe nie aldag sag nie, maar sy’t geleer om die juweeltjies te koester: lenteaande se vars kruiereuke uit die veld. Nuwejaarsbraaie saam met bure en familie in die droë rivierloop skuins agter hul huis. Later moes sy sterk staan regdeur kwaai droogtes en my pa se kankerbehandelings. Ons, hul kinders was jong olyfboompies rondom hul tafel, toe sy ’n weduwee raak tydens nog ’n taai droogte.
Eers deesdae begryp ek haar verwysings na geskenke was aanduidings van haar waardering oor familie se liefde en omgee. Dit was haar klein stukkies sekuriteit; skatte van die hart wat die leë plekkies in haar binneste kon vol lê.
Só soek almal van ons na koestering, na tasbare bewyse van omgee. Ons sien daardie soeke in die aantal mense op lughawens met trooskoffie in die hand; hoe sommiges ’n sigaret probeer léégsuig. Mens hoor dit wanneer iemand vertel “My Harrods-waslappie is ingepak vir môre se hospitaal toe,” of “Proe ’n koekie – ek het dit sorgsaam uit België saamgepiekel”.
Gisteraand hoor ek myself verduidelik ons aandete is gevriesde forelpasteitjies wat ons jongste vanaf Milly’s in Mpumalanga saamgevlieg het huistoe. En skielik begryp ek: Vertellings van die geskenk raak ’n huldiging van omgee-juweeltjies; veel meer as ’n beoordeling van die materiële waarde daarvan.
Vertellings oor die oorsprong van ons ete pas ook in by ons etenstye wat storietyd geraak het. Lagtyd. Ons is normale mense, daarom was daar ookal etenstye met ’n gespanne atmosfeer. Maar meestal is etenstye die gom wat ons gesin en vriende – almal uiteenlopende siele – bymekaar hou.
Soos ’n onlangse etenstydstorie van die jongman met ’n ernstige lewenshouding. Hy’t vroeg in die Otterstaproete altwee sy onderbroeke verloor: Die eerste stukkie waardigheid is Aand Een gewas en kuis buite sig-afstand oor ’n bos gehang. Ongelukkig sien niemand dit die volgende oggend raak nie; hyself onthou dit eers ’n dagreis verder.
Etenstyd daardie aand beveel sy stapmaats aan dat hy – heeltemal teen sy private grein in – sy enigste onderbroek aan ’n stok oor die braaivuur hang. Net jammer die vlamme was ’n bietjie kwaai.
Dis wanneer almal rondom ons eettafel lekker lag, dat ek en my man weet hoe gelukkig ons is; dat ons ons eetkamer Laughiness wil doop.
Want etenstafelkuiertjies raak die gom wat ons bymekaar hou; dit bied ’n plek vir vreugde en koestering, vir goedvoel en behoort-aan.





