In die hartjie van die Swartland vier die grootste landbouskou in die Wes- en Suid-Kaap vanjaar sy 90ste bestaansjaar met ’n program vir die hele gesin.
Swartlandskou Moorreesburg sal van Woensdag 4 tot Saterdag 7 September 2024 die beste uit dié geweste aan 20 000 besoekers bekendstel.
Die skou, met Afgri as ankerborg, is bekend vir die beste perde, beeste, skape en pluimvee, asook ’n masjinerie-uitstalling van R230 miljoen.
Die ‘cool’ van landbou: Van 8-span waperde tot ’n skaapskeer-nuutjie
Die skouprogram bars vanjaar uit sy nate met landbou- én leefstylaktiwiteite. Swartlandskou pronk met die grootse vleisbeesskou in die Wes- en Suid-Kaap, met sowat 400 diere wat om gesogte titels meeding.
’n Kleinvee-nuutjie is die Swartlandskou-skeerkampioenskap.
Besoekers kan uitsien na die BKB & FNB Slaglamkompetisie, Merino-kampioenskap, die SA Vleismerino- Super-10-kampioenskap en die OVK-Interrasuitstalling.
Meer as 400 wa-perde sal ten toon gestel word met die 8-span waperde as ’n hoogtepunt. Sowat 230 leerders sal aan die Streek-jeugskou deelneem en Wes-Kaap Pluimveeklub sal ’n pluimvee-tentoonstalling hou.
Die musikante Jay, Chris Else, Viljoen Retief, Dodo Nyoka, Jan Rhaap en ander sal optree, terwyl die Afgri-vrouedag met Marciel Hopkins as gasspreker en ’n landbou-oggend met Theo Vorster as gespreksleier interessante ervarings wees.
Die kleingoed kan uitsien na ’n kulkunstenaar, ’n dansskool, Lollos en ’n speelpark met toesig.
Volgens die president Jacques Bester is Swartlandskou ’n sukses danksy noue samewerking tussen die gemeenskap en sakeondernemings. “Kom ervaar plattelandse geselligheid en kom deel in die ‘cool’ van landbou.”
Toegangskaartjies sal by Ticketpro en by die hekke te koop wees. Toegang wissel van R50 tot R150 per dag, gratis vir kinders onder vyf jaar en R40 vir kinders onder 18 jaar, asook afslag vir pensioentrekkers.
Vir meer inligting, besoek https://www.swartlandskou.co.za/ en volg @SwartlandskouMoorreesburg op Facebook en @Swartlandskou op Instagram.



