Swartland-klubs se hoop om na die eindstryd van die Sanlam-Boland-Top-12 deur te dring, is Saterdag (25 November) lamgelê.
Nietemin is rugby uit die boonste rakke in ’n volgepakte Boland-stadion in Wellington opgelewer.
In die eerste halfeindstryd het Safcol van Grabouw behoorlik sy stem dik gemaak en die vloer gevee met Darling. Dit het behoorlik drieë gereën en die Swartlanders kon nie al die gate toestop nie. Hierdie wedstryd het 68-38 in die Overbergers se guns geëindig. Hiermee het Safcol nou ’n duidelike boodskap gestuur – dat hy baie ernstig is oor sy voornemens om as die algehele kampioen gekroon te word.
Daar was heelwat drama – reg tot aan einde in die tweede halfeindstryd – toe Robertson teen Wesbank in baie spanningsvolle wedstryd met 32-29 aan die wenkant was.
Dit het in die eerste helfte gelyk asof Robertson met die wedstryd gaan weghardloop nadat hy met die draaislag 25-8 voor was.
Wesbank het egter nie gaan lê nie en het met ’n goeie terugvegpoging in die tweede helfte verseker dat hierdie wedstryd eers in die finale sekondes beslis sou word.
Daardie laaste paar minute het die toeskouers op hul voete gehad met Wesbank wat verwoed aangeval het.
Robertson het egter kalm gebly en seker gemaak hy speel volgende week in die eindstryd van die Sanlam-Boland-Top-12 teen Safcol.





