Kailen Kotze, ’n matriekleerder van die Hoërskool Swartland in Malmesbury, het onlangs ’n nuwe ondervinding by sy indrukwekkende lys sportprestasies bygevoeg.
Hy het die eerste keer by die SA Tweekamp-kampioenskap in Bloemfontein as gids vir ’n siggestremde atleet opgetree. Die organiseerders het reeds vooraf vir Kailen gevra om Tumelo Sootho van Worcester tydens sy 400m-item te begelei.
Wanneer mens ’n siggestremde atleet op hierdie manier help, is ’n kort toutjie wat beide atlete vashou, ’n belangrike kommunikasiemiddel. Gidse moet ook aanpas by die siggestremde atleet se spoed, nie andersom nie – iets wat Kailen heeltyd moes onthou.
Tydens hierdie byeenkoms op 31 Maart het Kailen ook nie teruggehou in sy eie item nie – hy het as vierde beste o.19-tweekampatleet (uit 63) geëindig met altesaam 2 096,54 ASA-punte. Kailen se jonger broer, Arden (o.15), het ’n 9de plek uit 70 deelnemers behaal. ’n Derde HSS- atleet was Jani Visagie, met ’n 30ste plek uit 75 deelnemers.
Kailen is van kleins af baie lief vir sport, vertel sy ma, Marrie-Louise Kotzé. Hy het op agtjarige ouderdom aan sy eerste tweekampbyeenkoms deelgeneem en dadelik besluit hy gaan hard werk om ’n groot sukses van sy tweekamploopbaan te maak.
Kailen het in 2015 by Swartland Swemklub aangesluit met die doel om provinsiaal te kan swem. Sedert sy tiende verjaardag in 2016 laat hy die medaljes inrol by provinsiale, nasionale en skoolstreekskampioenskappe.
Wat kan verkeerd loop vir ‘n jongman wat swaar dra aan erekleure-balkies vir sy skool in tweekamp en swem, meermale as sportman van die jaar by sy skool aangewys word en reeds Boland Tweekamp se Victor Ludorum was? Gelukkig vir Kailen was dit nie beserings nie, maar Boland-kleure in rugby wat sy lewe moeilik gemaak het. Hierdie jong skrumskakel moes kies – tweekamp of rugby? Omdat hy universiteitskeuring wil kry om volgende jaar fisioterapie te studeer, moet skoolwerk ook iewers tyd kry.
Uiteindelik het rugby gewen, en deesdae swem hierdie eerstespan-rugbyspeler net twee keer per week om fiks te bly vir tweekampbyeenkomste, omdat hy steeds aan tweekampkompetisies deelneem.





