Swartland Vissery in Bokomoweg vier 46 jaar van sukses. Die verhaal van die Quintal-familie het in 1978 op Malmesbury begin toe Johnny en sy pa, Teo, ’n gewilde besigheid op 23 September presies om 15:00 by Joy Rinkwest oorgeneem het. Johnny dink met trots terug aan sy pa, wat reeds met die koop van die besigheid, ’n gesoute sakeman was. “My pa het byna tot sy dood 14 jaar gelede steeds in die winkel gewerk om vir sy kliënte vis te bak,” vertel hy.

Johnny, wat hom ná die weermag aanvanklik eers in die hotelbedryf bevind het, kyk terug na jare se harde werk, kliënte wat vriende geraak het en sy personeel wat vir hom soos familie voel. Talle suksesverhale van oudinwoners wat as personeel by hom begin het, spruit uit Swartland Vissery. Volgens hom is hy trots op die feit dat hy die grondslag vir ’n blink toekoms kon skep.

Volgens Johnny is Swartland Vissery se deure vandag steeds oop – byna vyf dekades al – as gevolg van die vriendelikheid van sy personeel. “Ek sê altyd ons kliënte is koning. Kliënte kom eerste en die personeel tweede, want hulle moet die kliënte altyd tevrede stel.”

Die Quintals was deur die jare baie betrokke binne die gemeenskap en het oor dié tydperk die geleentheid gehad om nou verhoudings met inwoners op te bou, wat vandag steeds staande bly.

Nog ’n belangrike komponent wat tot hul sukses bygedra het, is die gehalte van hul produkte en waarde vir geld. “My pa het altyd gesê gehalte kom eerste. As jy die regte gehalte gevind het, kan jy begin baklei oor die prys.”

Swartland Vissery pronk boonop met hul produkte se gehalte wat altyd dieselfde bly.

“Die vis en tjips kan nie die een dag baie lekker wees en die volgende nie so lekker nie,” verduidelik hy. Hy sê sowat 80% van hul kliënte leef op die broodlyn of net daaronder. Daarom is dit vir hom baie belangrik dat sy kliënte altyd waarde vir hul geld ontvang.

Hy is ook dankbaar dat Swartland Vissery ondanks die Covid-19-pandemie steeds van krag tot krag gaan. “Ons het onder moeilike omstandighede saamgestaan, saamgewerk en weer as die Swartland Vissery-span begin.”

Die gewilde viswinkel ontvang elke vyf jaar ’n nuwe voorkoms, hetsy ’n nuwe lek verf of ’n verandering in dekor. ’n Skoon en netjiese perseel geniet voorkeur.

Swartland Vissery, die oudste onderneming in die dorp, bly ’n gunsteling onder inwoners. Dit is ook nie te versmaai om te hoor dat Swartland Vissery die beste vis en skyfies ter wêreld het nie, vertel Johnny met ’n breë glimlag oor twee oudpersoneellede wat dit al die pad uit Italië bevestig het.

Johnny bedank graag al hul lojale kliënte vir hul ondersteuning die afgelope 46 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article