Lede van Swartland Veteraneklub het vroeg Saterdagoggend (2 November) die verkeersirkel aan die bopunt van Voortrekkerweg tussen die N7-snelweg en die De Zwartland Markt-winkelsentrum opgeknap deur die tuin skoon en netjies te maak. Só het die sirkel voorheen gelyk. Foto’s: Verskaf


Lede van Swartland Veteraneklub het die afgelope Saterdagoggend (2 November) die tuin van die verkeersirkel aan die bopunt van Voortrekkerweg, tussen die N7-snelweg en De Zwartland Markt met kaal vuiste aangepak en netjies gemaak.

Dit volg nadat Pieter van Aswegen, ’n boorling van Malmesbury, as klubvoorsitter die lede genader het met die inisiatief om dié verkeersirkel op te knap.

Van Aswegen, wat die ingang na die dorp daagliks gebruik, vertel hoe die voorkoms van dié verkeersirkel hom elke dag meer en meer begin pla het en hy besluit het om iets daar omtrent te doen.

Nadat hy deur die regte kanale gegaan het om toestemming vir die inisiatief te kry, is dit van nou af die klub se verantwoordelikheid om die sirkel netjies en in stand te hou danksy die ondersteuning van die Swartland-munisipaliteit.

“Dit gaan nou ons plig wees om die sirkel mooi en netjies te maak en so te hou,” voeg Van Aswegen by. Die klub beplan om dié sirkel een te maak waarop inwoners trots is wanneer hulle die dorp inkom.

Klublede het die afgelope Saterdagoggend die tuin binne ’n paar uur skoon en netjies gemaak. Vygies gaan binnekort vir kleur geplant word.

’n Ou ploeg of twee is as versiering natuurlik ook deel van die klub se beplanning om net ’n paar te noem.

“Dit is een van ons hoofingange van ons dorp. Ek wil graag hê wanneer besoekers en inwoners die ingang gebruik, hulle moet sê, ‘Sjoe, kyk hoe netjies lyk dit’.”

Die klub was oorweldig deur die ondersteuning en aanmoediging wat gedurende die oggend deur plaaslike boere en inwoners van die dorp ontvang is.

“Mense het by die sirkel gestop en vreemdelinge het worsrolletjies en koeldranke uitgedeel,’ vertel hy met ’n glimlag.

Du Toit Trailers het boonop ook gratis ’n sleepwa gegee om die tuinvullis te verwyder, waaroor Van Aswegen en die ander klublede baie dankbaar was. Inwoners kan nou binnekort danksy Swartland Veteraneklub na ’n spogingang uitsien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article