Swartland se graanvooruitsigte onder druk na swak September-reënval

Kanola word op die plaas Blikhuis reg langs die R45 geoes. Foto: Lourens Louw

Die Swartland se grane het vanjaar oor die algeheel die hele seisoen belowend gelyk. ‘n Ver ondergemiddelde reënval gedurende September het egter onsekerheid onder die streek se produsente gebring, wat die potensiaal van hul graan betref, verduidelik Suzanne Lureman, ‘n landbou-raadgewer by Overberg Agri in Moorreesburg.

Volgens data, wat deur Overberg Agri se silo’s reg oor die streek aangeteken is, het die streek gedurende die groeiseisoen (April tot September) 34 mm minder reënval ontvang in vergelyking met die langtermyn gemiddeld van 276mm – ‘n afname van sowat 12%.

Ten spyte van die droër toestande het opbrengste wat tot dusver gerealiseer het, redelik naby aan die langtermyn-gemiddeld gebly. Sekere gebiede in die Swartland pronk selfs met bo-gemiddelde opbrengste en goeie broodkoring-grade wat wissel tussen BS, B1, B2 en B3. Daar is egter ook dele waar produsente uitdagings met laer proteïenvlakke en hektolitermassa ervaar, voeg sy by.

Die Safex-Desember-koringprys waarteen produsente koring bemark, is gemiddeld R6 192 vir Maart tot nou.

“Die produsent realiseer dus tussen R5 000 tot R5 370 per ton ná aftrekkings vir ‘n koringprys in die Kaap,” verduidelik Lureman.

“Met insetkoste wat nagenoeg R11 000 tot R13 000 per hektaar beloop, bly met ‘n gemiddelde oes nie baie oor om van te leef nie.”

Sy sê die insetkostes verskil wel vir sekere produsente, afhangende van die gebied waar hulle plant. Die laaste maand se gemiddelde Safex-Desember-koringprys is ongeveer R5 936, met ‘n produsenteprys van tussen R5 080 en R4 700/ton wat die winsgewendheid van koringverbouing geweldig onder druk plaas.

Frikkie Barnard, ‘n graanverkryger van Afgri, meen ‘n rekord opbrengs onder koringprodusente is op die tafel wanneer gekyk word na kilogram koring per millimeter reën.

In die Afgri-opvangsgebied is sowat 30% van die koringoes reeds in, wat beteken daar is nog baie koring op die lande.

Vir Barnard lyk dit of vanjaar ‘n tradisionele Swartland-jaar kan wees met broodkoring-grade wat tot dusver voldoende is. Barnard voorspel sowat 60% B3 en 40% B2’s. Die reënval, wat middel September afgesny het, het wel sowat 25% van die opbrengspotensiaal geknyp, sê hy.

Wat die kanaola betref, het die weer vanjaar saamgespeel, brei hy uit. “Die meeste produsente is tevrede.”

LEES OOK: Groei vir Goud-toekennings 2025: Suid-Afrikaanse graanprodusente breek vele rekords

Barnard voeg egter by die koringprys bly die grootste doring in die vlees. “Die prys maak nie op vir wat ingesit is nie, ongeag waar jy lewer.

Produsente kan nagenoeg R4 900 per ton ná aftrekkings verwag. Solank vanjaar se koringoes bo die langtermyn-gemiddeld is en kanola geplant is, kan dit oor die algemeen ‘n goeie jaar wees wat produsente sal deurtrek.”

Louis Coetzee, bedryfsbestuurder by Agrimark se graanafdeling, sê op sy beurt graadverspreiding is vanjaar gewis beter as verlede jaar (90%+ broodkoring).

Volgens hom was die algehele verwagting ‘n effens beter oes, maar die laer reënvalsyfer in September het produsente ‘n bietjie uitgevang.

“Dit is egter steeds ‘n goeie oes – self bo-gemiddeld, dink ek,” voeg hy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article