Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder van die Swartland-munisipaliteit het met die opening van ’n gewone raadsvergadering in die splinternuwe raadsaal raadslede en gaste verwelkom. “Wat ’n eer om teenwoordig te wees by ons eie raadsaal.” Hy het gesê dit is sy wens en sy gebed dat elke liewe besluit wat voortaan binne die vertrek geneem word, gebaseer sal wees op insig, wysheid, geloofwaardigheid en integriteit. Foto: Charlotte Lesch


Dit was duidelik uit die afgelope munisipale rede dat talle mikpunte en doelstellings nie net deur die Swartland se munisipale raad daargestel is nie, maar ook gedurende die afgelope jaar geslaagd was.

Geslagsgebaseerde geweld, veiligheid, dissipline by die huis, ekonomiese transformasie, die jeug, infrastruktuur en dienste was onder meer van die fokuspunte wat die afgelope jaar aandag geniet het.

Die uitvoerende burgemeester van die Swartland, Harold Cleophas, het die afgelope Vrydag (31 Mei) sy derde munisipale rede aan raadslede, die uitvoerende burgemeesterskomitee, direkteure en gaste in die munisipaliteit se splinternuwe raadsaal voorgelê.

Cleophas was trots om te noem dat talle projekte, wat sedert 2022 se begrotingsrede beplan is, vanjaar aan die gang gekom het.

Die grondwerke van die splinternuwe swembad in Wesbank is reeds onderweg en die agterstand in die bou van paaie is iets van die verlede nadat R80 miljoen toegewys is vir die bou van nuwe strate binne die volgende drie jaar.

Saal, sportfasiliteite

Die nuwe saal vir die gemeenskap van Kalbaskraal was ook een van die burgemeester se voorkeure en het nou ’n werklikheid geword.

“Vandag kan ek noem dat Kalbaskraal sy veeldoelige sentrum sal kry. Beplanning geskied binne die nuwe begrotingsjaar, en sowat R7 miljoen is daarvoor begroot.

Die sportfasiliteite in Koringberg sal ook in die nabye toekoms aandag geniet. Hy het weer genoem dat ’n nuwe brandweervoertuig op pad is, maar dat die aanstelling van nuwe personeel binne die brandweer ook voorkeur geniet met twee nuwe brandweermanne en/of -vroue wat vanjaar nog aangestel sal word.

Munisipale kliënte kan binnekort uitsien na voorafbetaalde elektrisiteit wat aanlyn gekoop sal kan word. Die tenderproses het op 17 Mei gesluit.

Die belangrikheid van inwoners se veiligheid is by die raadsvergadering duidelik gemaak. Volgens Cleophas is R500 000 deur die provinsiale regering vir rookverklikkers in informele nedersettings toegestaan, terwyl ’n verdere R250 000 van die raad se eie geld vir bykomende rookverklikkers bygevoeg is.

Finansiering vir noodhulpkissies vir die 2024-’25-boekjaar is van die departement menslike nedersetting ontvang.

Wat tariefverhogings betref, het Cleophas benadruk almal is in die huidige ekonomiese tye onder druk en het bygevoeg tariewe en koerse word so laag as moontlik gehou. Cleophas het sy mees “pro-poor”-begroting moontlik voorgelê waar terselfdertyd gespook is om volhoubare en bekostigbare dienste te verseker.

Tariefverhogings:
  • Die finale eiendomstariefaanpassings vir die 2024-’25-boekjaar sluit in ’n vermindering van 10% vir residensiële eiendom.
  • Sake- en staatseiendom verhoog nie, terwyl landbou-eiendom ook met 10% verminder.
  • Elektrisiteit verhoog met 12,81%.
  • Vullisverwydering verhoog met 11%, terwyl riool met 5,9% toeneem.
  • Watertariewe styg met ’n gemiddeld van 5,9% vir die eerste 25kl en daarna met 5.9% vir residensiële verbruikers.
  • Die bedryfsinkomste verhoog van R1,252 miljard na R1,459 miljard.
  • Die bedryfsuitgawes groei van R1,071 miljard na R1,189 miljard, wat neerkom op ’n groei van 11%.
  • Die kapitaalbegroting groei van R248,6 miljoen na R376,5 miljoen in 2024 en 2025.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article