Die nuwe bestuur is (agter van links): Lizelle Colesky (taklid), Zari Palm (sekretaresse), Lucille Bezuidenhout (voorsitter), Elsabé van der Merwe (taklid) en Zanele du Toit (onder-voorsitter). Voor: Elbé Bezuidenhout (taklid) en Mariëtte Roos (assistent-streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap).


Die Swartland-tak van Helpende Hand het met ’n onlangse inligtingsessie weer die werksaamhede, fokus en projekte van dié organisasie in die omgewing bekendgestel.

Belangstellendes wat die sessie bygewoon het, het inligting ontvang oor projekte wat deur die bestaande tak in die omgewing gedoen is.

“ ’n Beroep is gedoen op mense wat die inligtingsessie bygewoon het, om by die gemeenskap betrokke te raak deur die werksaamhede van die Helpende Hand-tak te ondersteun”, sê Lucille Bezuidenhout, nuutverkose voorsitter van die tak.

Volgens Bezuidenhout is dit nodig dat die gemeenskap verantwoordelikheid moet neem om deur middel van die strukture en geleenthede wat Helpende Hand bied, in die gemeenskap betrokke te raak.

Bezuidenhout het voorts gesê: “Almal is bewus van die behoeftes en nood in die onderskeie gemeenskappe, maar min mense is bereid om hand op te steek en saam te werk om gemeenskappe beter te maak”.

“Helpende Hand bied die geleentheid om met ander organisasies netwerke te vorm en te fokus op bejaardes, mense met gestremdhede, kinders en gesinne, om volhoubare programme en projekte in die gemeenskap te doen.”

Tydens die vergadering is die nuwe bestuur vir 2024 verkies en aangewys.

Bezuidenhout is verkies as voorsitter, Zanele du Toit as ondervoorsitter en Zari Palm as die sekretaresse van die tak.

Vir enige verdere inligting of om meer uit te vind oor Helpende Hand, tree in verbinding met Mariëtte Roos, die assistent-streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap, by marietteroos@helpendehand.co.za. Ons Winkels is die skenkingswinkels van Solidariteit Helpende Hand.

Daar is landwyd 127 winkels waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan aflewer.

Die winkels ontvang die skenkings en verkoop produkte van goeie gehalte teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Besoek gerus Du Toit, die eienaar van Ons Winkel Malmesbury, by Rainierstraat 4b, Malmesbury.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article