Die Swartland-munisipaliteit het vandeesweek weer goeie nuus van die Ouditeur Generaal (OG) ontvang. Die OG het bevestig dié munisipaliteit het sy tiende skoon oudit vir die 2021-’22boekjaar behaal.
“As ’n raad het ons onlangs ons eerste jaar van hierdie termyn voltooi. Dié toekenning is tekenend van die harde werk en toewyding van elke amptenaar en raadslid wat deel is van die Swartland,” het Harold Cleophas, die burgemeester, na afloop van die aankondiging gesê.
Hy het die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, en direkteure gelukwens met die doeltreffende bestuur van die Swartland-munisipaliteit.
“Sonder jul spesialiskennis sou hierdie prestasie nie moontlik gewees het nie.
“My gelukwense gaan ook aan elke munisipale amptenaar; julle is die onmisbare komponente wat tot die munisipaliteit se sukses bydra.
“Graag bedank ons ook elke inwoner vir u volgehoue ondersteuning. Ek besef terdeë dat ons nie foutloos is nie, tog wys hierdie toekenning dat ons na uitsonderlike diens streef. Die skoon oudit bied aan ons inwoners die versekering dat die munisipaliteit se administrasie met gesonde finansiële bestuur en behoorlike kontroles in goeie hande is.”
Cleophas het ter afsluiting gesê hy is dankbaar en bevoorreg om hom as uitvoerende burgemeester van die Swartland-munisipaliteit tot diens van die gemeenskap te stel.




