Die Swartland-munisipaliteit het die afgelope week in hul pogings geslaag om onwettige grondbesetting in die De Hoop-omgewing van Malmesbury stop te sit.

Die munisipaliteit se wetstoepassingseenheid, saam met die polisie se eenheid vir openbare orde asook wetstoepassingseenhede van buurmunisipaliteite, het verlede Dinsdag alle boumateriaal, afbakeningsmerkers en vele meer op die terrein verwyder.

Boumateriaal en ander toerusting is onder meer deur mense wat onwettig opgetree het, in ’n gebied geplaas wat reeds vir behuising geoormerk is.

Die munisipaliteit is tans besig om ’n behuisingsprojek in die spesifieke omgewing, wat deur die onwettige oortreders geteiken word, uit te rol en te implementeer.

Die eerste fase is reeds voltooi terwyl die tweede fase van die behuisingsprojek met die aanvang van die volgende boekjaar sal begin.

Die munisipaliteit het intussen ook met die verteenwoordigers van die voornemende grondbesetters vergader. Hulle is verduidelik hulle sal nie toegelaat word om enige verdere onwettige optrede toe te pas nie.

Die terrein is al ’n geruime tydperk reeds deur die munisipaliteit spesifiek vir behuising uitgemerk.

Grootmaat-watertoevoer en rioolinfrastruktuur is ook al ingerig.

Volgens die munisipaliteit is voorsiening reeds getref vir die installering van elektriese infrastruktuur gedurende die huidige én die daaropvolgende twee boekjare.

Beplanning van altesaam 2 500 behuisingsgeleenthede is voltooi terwyl die provinsiale tesourie finansiering vir 1 013 geleenthede gedurende die volgende twee boekjare toegewys het, soos gepubliseer binne die bepalings van die Inkomstewet.

“Die Swartland-munisipaliteit sal geen pogings tot onwettige toegang en grondbesetting duld nie. Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om in die belang van die groter gemeenskap op te tree en hulle te beskerm. Die onwettige optrede van ’n paar mense, wat duisende inwoners se toekoms wil belemmer nadat hulle reeds jare lank geduldig op ’n eie huis wag, sal onder geen omstandighede toegelaat word nie.”

Die Swartland-munisipaliteit het beklemtoon dat hy nie sal ophou om die hele gemeenskap en wetsgehoorsame inwoners se belange te beskerm nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article