’n Straat-sportgeleentheid is onlangs in Palmboomstraat as deel van ’n gesamentlike skoolvakansieprogram aangebied.

Credit: SYSTEM

Lede van die Moorreesburg-polisie het in vennootskap met Weskus-distriksmunisipaliteit (WCDM), die Swartland-munisipaliteit, die gemeenskapswerkprogram, departement van kultuursake en sport, mediese nooddienste (EMS) en wetstoepassing ’n straatsport-geleentheid in Fairview, Moorreesburg, gekoördineer om bewusmaking oor gemeenskapsveiligheid en dwelmmisbruik te skep.

Die straat-sportgeleentheid is in Palmboomstraat, wat as een van die brandpunte in die buurt geïdentifiseer is, gehou. Meer as 100 mense het die geleentheid bygewoon.

Desmond Pypers, ’n raadslid by die Swartland-munisipaliteit, het die openingsrede gelewer en die rolspelers vir hul inisiatief bedank. Hy het inwoners aangemoedig om ’n veiliger gemeenskap vir almal te help bou. “Onderwys is ’n belangrike katalisator vir sosiale kohesie, en daarom wil ek die jonger kinders aanmoedig om hul skoolloopbaan te voltooi,” het Pypers gesê.

Sers. Nicolette Visagie, ’n woordvoerder van die Moorreesburg-polisie, het ouers versoek om seker te maak hulle weet te alle tye waar hul kinders is. “Jy moet jou straat terugeis en misdaad by die polisie aanmeld,” het sy gepleit.

Sy het bygevoeg deelname aan sport hou kinders nie net besig met ontspanningsaktiwiteite nie, maar is ook baie gesond vir liggaam en gees.

Die straat-sportbyeenkoms is deel van die polisie se skoolvakansieprogram en soortgelyke geleenthede het gedurende die skoolvakansie in ander strate plaasgevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article