Lede van die Swartland-munisipaliteit, die Weskus-distriksmunisipaliteit, die Moorreesburg-polisiekantoor en leerders van die plaaslike skool in Koringberg het die afgelope week vir ’n genotvolle sportbyeenkoms teen dwelmmisbruik byeengekom. Volgens AO Nicolette Visagie van Moorreesburg het wedstryde op 19 September in Kanaalstraat in Koringberg reg voor bekende dwelmhuise plaasgevind.
Leerders het onder meer netbal en sokker gespeel en is terselfdertyd geleer dwelms is nie ’n gesonde leefstyl nie, maar sport is wel. “Sport bied ’n positiewe en gesonde lewenstyl teenoor die gebruik van dwelms,” beklemtoon Visagie. Sy het by hierdie geleentheid ’n beroep op ouers gedoen om op te staan teen die gebruik van dwelms, dwelmhandelaars en onwettige alkoholpersele.




