Vroeëkinderontwikkelingsentrums in Darling het verlede Donderdag (21 Maart) bymekaargekom vir hul tweede Interskole-sportdag by die Gabriël-sportsentrum.
Die geleentheid het vanjaar verdriedubbel nadat nog sentrums by die geleentheid betrokke geraak het.
Altesaam agt vroeëkinderontwikkelingsentrums van die plaaslike omgewing het vanjaar deelgeneem, waarvan Evita’s Darlings, Little Darlings, Barney’s Angels, Tipsy Toes, Two Little Birds, Tiny Toezies, Wildscutsvlei Seedlings en Sparkling Stars deel gevorm het.
Sowat 250 kinders tussen die ouderdomme van twee en ses jaar het aan die verskeie aktiwiteite deelgeneem. Ouers en onderwysers is ook die geleentheid gegun om hul atletiese talente ten toon te stel, vertel die skoolhoof Josephine Hector van Little Darlings.
Die geleentheid het vanjaar hope pret en plesier opgelewer, wat bygedra het tot die dag se sukses – wat nou ’n jaarlikse instelling is. Verlede jaar het die Interskole-sportdag slegs drie sentrums behels.
Die organiseerders bedank alle skoolhoofde en ouers wat aan die byeenkoms deelgeneem het, asook lojale ondersteuners soos Darling Romery, Kirsten Vervoer, Sibathu Mining en familie en vriende.
Die Swartland-munisipaliteit is ook bedank vir die ruimte wat die byeenkoms moontlik gemaak het.
“Die interskole sou nie sonder ons ondersteuners ’n sukses gewees het nie. Ons hoop om op die gebeurtenis voort te bou omdat dit broodnodige geld vir die sentrums betrokke genereer. Saam kan ons meer bereik,” voeg Hector dankbaar by.





