Langeberg 8 Ball Pool Liga se tyd het aangebreek, om op 26 Junie aan die 2022- SA Junior en Senior kampioenskappe in Saldanhabaai te gaan deelneem.
Veertien spelers gaan in verskillende afdelings aan die SA kampioenskap deelneem. Hierdie groep spelers het hulself tydens die proewe, wat in Worcester en Robertson gehou is, bewys. Dit gaan ’n belewenis wees dat soveel spelers van Robertson se 8 Ball-spelers ná soveel jaar aan so ’n groot toernooi gaan deelneem.
Die stigter van die Langeberg- 8 Ball Pool-liga, Gerald Otto, is baie trots op hierdie spelers.
“Dit wat jy insit, sal jy uitkry. Ek is ook baie bly oor die dissipline, netheid en bywoning in ons Sondag-liga, asook ouers wat hul kinders tydens wedstryde kom ondersteun.”
Otto en sy assistent, Desmond Prins, is hard aan die werk met die voorbereiding van die jong spelers wat die eerste keer in so groot toernooi gaan deelneem.
“Ons sal ook ons spelers vir die week wat hulle in Saldanhabaai gaan wees, in ons gebede opdra. Ons o.14 A-span is so voorberei dat hulle vir niks hoef terug te staan nie en gaan net hul beste gee. Al is hulle klein, is hulle sterk.”
Een van die plaaslike skoolhoofde, Neville Padiachy van Laerskool Dagbreek, het ’n besoek gaan aflê toe die spanne mekaar afgeransel het.
“Mnr Padiachy sê ook dit was die eerste keer dat hy by ’n potspelgeleentheid was, en dit was vir hom ’n belewenis om te sien hoe een van sy gr. 7-leerders, Octavia Otto, in haar wedstryd in aksie was. Sy het gewys hoe maklik sy haar wedstryd gewen het.”
Octavia is die enigste o.14-meisie wat haar stem in SA Junior kampioenskap in Saldanha gaan dik maak.
Die skoolhoof het ook die res van die spelers wat gaan deelneem, alle sterkte toegewens.





