Navorsing het bewys hoe vroeër ons brein ingespan en op die regte maniere gestimuleer word, hoe beter is dit vir ons kognitiewe ontwikkeling.
’n Kind se brein is veral in die eerste vyf jaar soos sponse en elkeen van die 100 triljoen selle waaruit die brein bestaan, smag daarna om gestimuleer te word.
Die brein is ongelooflik en kan met reg beskou word as die liggaam se beheerkamer. Denke, beweging, taal en gevoelens word uit hierdie sentrale punt beheer. Teen drie jaar oud is die brein al 80% van sy uiteindelike volwasse grootte.
Dit is juis waarom ouers aangemoedig word om sommer so jonk as drie maande al met breinstimulasie met hul kind te begin.
Afrikaans.com gee die volgende wenke, maar stel voor dat dit ouderdomsgepas gehou word:. Sintuiglike stimulasie. Stel jou baba bloot aan klanke, smake, reuke, visuele beelde of vorms.. Beweging is noodsaaklik. Jou kleinding moet kruip, loop, klim en klouter. Hoe meer, hoe beter. . Lees vir jou kind van drie maande oud af. Dit doen wondere vir jou kind se taalontwikkeling.. Noem ’n ding op sy naam en gesels met jou kind – vertel hom waarmee jy besig is en noem kleure en voorwerpe.. Speel musiek, sing liedjies en kleuterrympies en dans sommer saam. So word albei kante van die brein gebruik.. Gee jou kind verf, kwasse, kryte en dies meer, en laat hy teken, plak en knip.. Klei en blokkies. Kleispeel en blokkiesbou is “uitstekende heelbreinoefening, omdat albei handjies moet saamwerk”. Boonop stimuleer dit logiese denke en hope kreatiwiteit.. Verbeeldingspel. Daardie boks vol klere en interessante voorwerpe is ideaal om jou kind se verbeelding te prikkel. Fantasiespel stimuleer laterale denke.. Kinders moet speel – alleen én saam met maatjies. Hierdie sosiale interaksie is noodsaaklik. Dit ontwikkel jou kind se “emosies, lyfie, woordeskat en denke”.. Ouditiewe geheue. Speel speletjies om dit te oefen, soos om ’n ritme te klap en haar te vra om dit te herhaal. Dit sal help dat opdragte (veral in die skoolopset) later makliker uitgevoer kan word.. Visuele geheue. “Pak voorwerpe uit en laat hom daarna kyk. Verwyder een en kyk of jou kind weet watter een weg is.” Of gooi die voorwerpe toe en kyk of hy hulle kan opnoem. Hierdie soort stimulasie help ook later met spelling.. Vertel stories. Jou kind kan die storie agterna terugvertel, of moedig hom aan om sy eie storie op te maak. In laasgenoemde geval is boekies met prente, en sonder woorde, aangewese.. Vra is vry. Kinders vra baie vrae en ouers moet maar geduldig bly en soveel moontlik van hul vrae beantwoord. ’n Nuuskierige kind is ’n leergierige kind.. Moedig hom aan om met kreatiewe antwoorde vorendag te kom. Dit is goeie stimulasie vir die regterbrein.. Kamma-lees. Die beweging van die oë van links na regs en bo na onder en veral wanneer hy simbole begin herken, is uitstekende oefening vir die linkerbrein. “Die visualisering van beelde en ervaring van emosies oefen weer die regterbrein.”. ’n Gesonde dieet is nodig sodat die brein na behore kan ontwikkel. Veral omega 3-vetsure (in vis soos salm en sardientjies) is net die olie wat die brein nodig het.
Enkele wenke vir ouers om briljantheid by hul kinders te kweek:. Een-tot-een-stimulasie: Daardie intense fokus tussen die ouer en die kind is een van die belangrikste redes hoekom kinders uitstyg.. Leer jou kind om taalvaardig te wees. As jy as ouer se taalvermoë ontwikkel is, en jy ’n uitgebreide woordeskat en algemene kennis het, is die kanse soveel beter dat jou kind se taalvermoë en begrip bogemiddeld sal wees. Probeer om nie babataal met jou baba te praat nie.. Speel met jou kind. Deur balle te gooi, te rol, in die sandput of met water te speel, stimuleer jy jou kind se brein en bevorder jy sy hand-oog-koördinasie. Speletjies speel, liedjies sing en dans (beweging) is net so voordelig vir jou kind se brein en konsentrasievermoë. Jou kind se lyf moet aan die gang bly.. Boeke: Maak seker jy het genoeg ouderdomsgepaste boeke, asook boeke binne die belangstellingsveld van jou kind, en lees gereeld vir jou kind voor.. Getalbegrip: Taalvaardigheid sluit getalbegrip in en dra grootliks daartoe by dat jou kind later wiskunde kan baasraak. Tel dus alles terwyl julle kommunikeer, bv. “Hier is drie koekies in die blik. Ek gaan een vir Pappa gee en jy kan een eet. Hoeveel koekies is oor?”. Praat, praat, praat. Die manier waarop ouers met hulle kinders kommunikeer, is belangrik – die toon, intonasie, die soort woorde, die gesigsuitdrukking – dra alles daartoe by dat jou kind leer hoe om ander mense se woorde te interpreteer en hoe om in sekere situasies op te tree.
Gaan lees gerus die volledige artikel op Afrikaans.com se leerhulpblad by https://afrikaans.com/2023/09/18/leerhulp-breinstimulasie-dit-is-hoe-jou-kind-sy-ouma-se-slimste-kind-word/





