Suid-Afrikaners vier Nasionale Waterweek van 20 tot 26 Maart. Daarmee saam vier die internasionale gemeenskap Wêreld-waterdag op 22 Maart elke jaar.
Dit is belangrik dat die gesprekke oor water nooit ophou nie. Water is nie ’n vanselfsprekende hulpbron nie. Verskeie faktore het ’n negatiewe invloed op ons natuurlike waterbronne, waaronder die klimaatskrisis en besoedeling.
Suid-Afrika was nog altyd ’n waterskaars land en kan dus nie bekostig om ’n enkele druppel te mors nie.
Die Swartland-munisipaliteit doen ’n beroep op elke inwoner om water spaarsamig te gebruik en ook om die streek se bestaande waterbronne skoon te hou. “Ons wil ten alle koste nog ’n ‘Dag Zero’-scenario vermy, en dit kan slegs gedoen word met elke inwoner se samewerking. Om water te spaar, moet deel van ons daaglikse leefwyse word,” lui ’n verklaring van die munisipaliteit.
Die munisipaliteit het ter viering van Waterweek ’n kunskompetisie vir Swartlandse laerskole aangebied.
“Al die inskrywings is nou bymekaargemaak en dit is verblydend om te sien ons jong inwoners het ’n baie goeie begrip van wat nodig is om water te spaar. Ons jong inwoners het wonderlike werk gedoen en die wenner sal binnekort aangekondig word. Hou gerus ons sosiale media en plaaslike koerante dop vir die aankondiging.”
Hier is ’n paar van hulle wenke:. Stort eerder as om te bad;. Draai krane toe – moenie dit onnodig laat loop nie;. Herstel stukkende krane, pype en lekkasies onmiddellik. Vang reënwater op en gebruik dit vir jou tuin in plaas van gewone drinkwater. Spoel die toilet net as dit nodig is;. Was jou kar uit ’n emmer.


