Skryf nou in vir Boer soek ’n vrou!

Vir bykans twee dekades reeds bewys kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou dat dit ongetwyfeld ’n liefdeswenresep is.

Tientalle Suid-Afrikaanse boere het sedert 2007 die liefde van hul lewe danksy dié gewilde maatsoekreeks gevind.

Só het die 15de seisoen, wat vroeër vanjaar op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai is, vir drie van die top-vyf boere liefde besorg.

Vandag blom die liefde behoorlik vir Louis B, terwyl Hennie en Eloïse, asook Francois en Vanessa, verloof is. Boonop het Francois en Vanessa onlangs die trotse ouers van ’n pragtige babaseuntjie geword.

Die borrelende Marciel Hopkins, gesoute Boer soek ’n vrou-aanbieder, sê dit is vir haar ’n reuse voorreg om Boer soek ’n vrou vir ’n vierde seisoen aan te bied.

“Ek is elke jaar van voor af opgewonde oor al die nuwe mense wat ek gaan ontmoet, die mooi plekke van ons land wat ek sal sien en natuurlik ook die pragtige liefdesverhale wat geskryf gaan word.

“Die afgelope 15 seisoene het reeds bewys hoe mense se lewe wesenlik kan verander wanneer hulle die regte mens vind om die lewe vorentoe mee aan te pak.

Boer soek ’n vrou is ’n wonderlike platform waardeur jy nuwe mense kan ontmoet en leer ken. Ek sal enigiemand aanmoedig om dapper te wees en in te skryf vir hul kans op liefde.

“Vir my lê die sukses van die reeks deels daarin dat deelnemers genoeg tyd kry om mekaar beter te leer ken. Dit help wanneer belangrike toekomsbesluite geneem moet word,” beklemtoon sy.

“Ek glo met my hele hart in Boer soek ’n vrou se potensiaal om die liefde te laat blom, en dit maak my werk vir my lekker en opwindend.”

Nou soek kykNET ’n nuwe oes boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat deel van die 16de seisoen wil wees.

Só kan boere inskryf:


.
Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;. Skakel 079 614 2229. Stuur e-pos na boer@wolflightsa.com

Belangrike inligting:
. Foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel. . Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.. Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 7 September 2023 bereik.. Die toptien boere vir die 16de seisoen sal op 29 Oktober tydens ’n spesiale uitsending op kykNET aangekondig word.

Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.

Die 16de reeks sal van 11 Julie 2024 oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article