Wil ons nie almal ’n bietjie gesonder wees in die nuwe jaar en dalk meer tyd in die natuur deurbring nie?

’n Goeie begin hiermee is om die volgende datums neer te pen vir wanneer Dirtopia se eerste wedlope van die jaar aan die hange van die Simonsberge vanaf Muratie-wynlandgoed plaasvind.

Dirtopia se eerste veldwedloop vir 2024 word Sondag (21 Januarie) gehou – met die immergewilde Resolusie- Trail Run wat deur Sportsmans Warehouse aangebied word.

Die veldwedloop word al sedert 2014 aangebied, en vanjaar kan deelnemers uit vier afstande kies, wat voorsiening maak vir alle vlakke van fiksheid. Alle roetes sal ’n vinnige draai deur die amper ryp wingerde en oggenduitsigte onder Simonsberg insluit voordat hulle in die enkelspoor bokant die kelder klim. Die wedloop bied ’n maklike 6-km-roete en dan die meer uitdagende 9-km-roete.

Die 9-km-roete sal meer van ’n uitdaging wees. Fikser hardlopers kan ook aan ’n 12,5-km-roete deelneem, maar dit is steeds ’n pretdraf.

Die kersie dan op die koek is die 18,5-km-roete waartydens die beste hardlopers pryse sal ontvang. Die lang afstande bestaan uit ’n enkelspoorroete wat in die woude sirkel met verskeie roetes wat jou na die eindpunt terugbring.

Almal wat die roete voltooi, sal ’n medalje ontvang en staan natuurlik ’n kans om pryse in die gelukstrekkings te wen.

Registrasie begin om 06:15 by Dirtopia Trail Centre en die langste afstand begin om 07:00 met ander afstande wat met 10-minute-gapings volg. Stappers en kinders is welkom op die kort afstand en pryse sal toegeken word aan die beste manlike en vroulike atlete in elke afstand wat die wenstreep oorsteek.

Voorafinskrywings kan tot Donderdagaand 18 Januarie aanlyn gedoen word. Pryse begin by R130, terwyl kinders onder 18 slegs R60 aanlyn betaal.

Neem asseblief kennis ’n bykomende fooi sal vir alle laat inskrywings geld.

Nog inligting is op die webblad www.dirtopia.co.za of per e-pos by info@dirtopia.co.za beskikbaar. Volg “DIRTOPIA” op Instagram en op Facebook vir die jongste nuus.

Maak daardie besluite ’n werklikheid en sluit aan by die pret in die buitelug!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article