Die jaarlikse streeksbyeenkoms van Helpende Hand Wes-Kaap het hierdie jaar weer gedurende die tweede naweek van November (Vrydag 8 en Saterdag 9 November) in die Stellenbosch-omgewing plaasgevind.
Ongeveer 24 takke van reg oor die Wes-Kaap het by Eikenhof-wynplaas saamgetrek om die jaar se verrigtinge af te sluit.
Soos elke jaar word die program saamgestel met die doel om aan al die vrywilligers die geleentheid te gee om lekker te ontspan, mekaar te leer ken en om ook saam oorsig van die jaar se werksaamhede te neem.
“Omdat die vrywilligers van Helpende Hand vir ons so belangrik is, poog ons om met elke jaar se afsluiting ons vrywilligers te bedank en ’n bietjie te bederf,” sê Mariëtte Roos, die assistent-streekorganiseerder vir Helpende Hand in die Wes-Kaap. “Ons besef dat hulle baie opoffer om vrywilligerwerk te doen en met hierdie geleentheid probeer ons aan elkeen erkenning gee en lekker informeel by mekaar te leer.”
Die groei en suksesse van Helpende Hand in die Wes-Kaap is gedurende die aanbiedings met die vrywilligers gedeel.
Dit gee ’n groot prentjie van die werksaamhede en fokusareas van hierdie organisasie en bring ’n mens tot die besef van die belangrikheid van gemeenskapswerk in die land.
Helpende Hand se Swartland-tak het vanjaar die toekenning vir Tak van die Jaar ontvang. Hierdie tak het ’n relatief nuwe bestuur en het die afgelope jaar hard gewerk om volhoubare gemeenskapsprojekte te doen.
Dit is ook deel van hul beplanning om geldinsamelingsinisiatiewe te dryf ten einde geld vir takprojekte in te samel.
“Die groot droom van die Swartland-tak is om vir hierdie tak ’n studiefonds te stig sodat ons by magte is om rentevrye studielenings aan studente toe te staan vir verdere tersiêre studies,” vul Lucille Bezuidenhout, voorsitter van die Swartland-tak, aan.
Die tak beplan om in Januarie 2025 weer hul werksaamhede te hervat en sal voortspruitend hieruit hul projekte beplan en in die Swartland-omgewing uitvoer.
Indien jy wil betrokke raak by Helpende Hand, of vir enige navrae, kontak gerus vir Mariëtte Roos by marietteroos@helpendehand.co.za.




