Maria Appollis (82) en Lize Albertyn-Du Toit (54) het Woensdag (21 Februarie) albei hul nuwe boeke by die Riebeek-Wes-biblioteek bekendgestel. Foto: Charlotte Lesch


Riebeek-Wes het nie net een nie, maar twee skrywers wat onlangs hul nuwe boeke die lig laat sien het.

Maria Appollis (82), beter bekend as ant Maraai van Riebeek-Wes, het op 82-jarige ouderdom besluit om haar herinneringe as kind in haar boek, Kind van die Oukloof, neer te pen.

Appollis het Woensdag (21 Februarie) gedurende die bekendstelling van haar debuut-digbundel by die Riebeek-Wes-biblioteek gesê sy hoop om lesers deur ’n reis van haar kinderlewe in die Oukloof te neem. Appollis het deur die jare gedigte en stories van haar ervaring as inwoner van Oukloof, ’n gebied in die vallei wat deur Apartheid geraak is, bymekaargemaak. “Ek het deur die boek die mooi kant van Oukloof probeer uitbeeld, hoewel Oukloof ook ’n baie lelike kant gehad het,” brei sy uit.

Appollis skryf al vir baie jare, maar het eers onlangs besluit om haar versameling skryfstukke in ’n boek saam te stel. Sy vertel hoe sy na mense uitgereik het om haar te help, maar ná vele probeerslae en teleurstellings uiteindelik by die plaaslike inwoners Rocco en sy vrou, Liezel de Villiers, uitgekom, wat die droom ’n waarheid kon maak.

De Villiers, van Riebeek-Kasteel, wat Appollis gedurende die geleentheid aan gaste bekend gestel het, sê sy het al diep spore in baie inwoners van die vallei se lewe getrap. “Sy was regtig al oral in die gemeenskap betrokke,” voeg hy by. Sy het op ’n dag raad by die De Villiers-paar kom vra en die res is geskiedenis.

Appollis erken sy sou nooit kon dink dat ’n boek van haar op ’n winkel- of biblioteekrak sou verskyn nie. “Die boek is ’n bewys dat alles moontlik is deur net te hoop, te glo en te vertrou.”

Volgens De Villiers ken baie mense nie die Oukloof nie. “Dis geskiedenis wat weg is en wat verlore gaan as mense nie die ou stories vertel nie,” voeg hy by.

Hoewel haar lewe as inspirasie gedien het vir die boek, was die plaaslike skrywer Lize Albertyn-du Toit ook ’n groot motivering vir haar om wel voort te gaan met die manuskrip.

Albertyn-du Toit het gedurende die geleentheid ook haar nuwe roman Duifeling aan gaste kom voorstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article