Jonathan Ruiters (50), ’n boorling van die Swartland, het die afgelope Dinsdag (22 Oktober) ’n geleentheid gekry om sy heel eerste boek, ’n digbundel genaamd Kronkelpaaie van die Lewe, in sy geboortedorp, Darling, bekend te stel. Die digbundel, wat Ruiters vyf jaar lank geneem het om te voltooi, is sedert 2022 reeds beskikbaar.
Hy het sy laerskooldae by die Hopefield Primêre skool voltooi, maar was weens omstandighede genoop om sy hoërskoolloopbaan kort te knip.
Ongeag die uitdagings, het ’n goeie skoolvriend, Gertjie Billy Hendricks, Ruiters steeds aangemoedig om sy liefde vir skryf en digkuns voort te sit. Ruiters, wat deesdae in Velddrif woon, kon deur die boek uiting gee aan die daaglikse uitdagings waarmee mense worstel
Dwelmgebruik, bendegeweld, vrouemishandeling en armoede is van die onderwerpe wat aangeraak is soos Ruiters deur die loop van die jare in veral sy tuisdorp en omliggende dele in die Wes- en Noord-Kaap met mense, wat met daardie uitdagings gekonfronteer is, in aanraking gekom het.
Die Engelse weergawe van die digbundel, Winding Roads of Life – ’n produk waarop hy net so trots is – sal ook eersdaags gereed wees.
Hou dus die oë en ore oop vir ’n volgende geleentheid waartydens sy digbundel in Engels en Afrikaans bekend gestel sal word.





