Inskrywings is nou oop vir die jaarlikse Wynland-fietstoer wat Sondag 22 Januarie 2023 by die Laerskool Hugenote in Wellington begin en eindig.

Dit is ’n uitstekende oefen-wedren en sal ryers vir die Kaapstad-fietstoer help voorberei.

Die renne sal in Generaal Hertzog-boulevard begin, en van daar af kan fietsryers op twee roetes in die landelike gebied ry.

Die eerste ren oor 102 km begin om 06:00 (inskrywings-fooi beloop R350). Dit is vir meer ervare ryers en dien as keuringsren vir die Kaapstad-fietstoer. Die roete neem ryers na Hermon, Riebeek-Wes en Voor Paardeberg (Slent-pad) en terug na Wellington op die R44.

Die tweede ren, oor 52 km, begin om 08:00 (inskrywingsfooi R260). Ryers ry via die Lady Loch-pad en volg die R45 in die rigting van Malmesbury, draai links by die Slent-pad om by die lang roete aan te sluit, en keer via die R44 terug na Wellington.

Verversings en ’n fietspark sal by die eindpunt beskikbaar wees. Die sluitingsdatum vir aanlyn inskrywings is Maandag 16 Januarie 2022 om 17:00, maar laat inskrywings sal op die dag aanvaar word teen ’n hoër fooi (R450 vir die lang roete en R310 vir die kort roete) vanaf 05:00, tensy 2 500 ryers vooraf ingeskryf het.

Vir meer inligting oor die roete en om in te skryf, besoek www.winelandscyclerace.co.za.

Die opbrengs van die byeenkoms gaan aan Paarl Rotary-projekte wat op vroeë kinderjare en jeugontwikkeling fokus.

Fietsren-nommers kan Vrydag 20 Januarie van 14:00 tot 17:00 by Bicycle Garage in die Laborie-sentrum in Paarl-Suid afgehaal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article