Minstens 11 mense is tussen Vrydag 10 en Maandag 13 Junie in drie skietvoorvalle in Malmesbury gewond.

Volgens sers. Henry du Rand, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is van die verdagtes intussen vasgetrek.

In die eerste skietery is sewe mense omstreeks 20:00 Vrydagaand (10 Junie) by die Protea-woonstelle in Irisstraat, Wesbank, gewond.

Du Rand sê lede van die “Flatse Boys” het buite die woonstelle gesit toe hulle deur twee mans genader is. Een van die verdagtes het op hulle begin skiet. Sewe van die groep is gewond en na die Swartland-hospitaal geneem. Twee is met ernstiger wonde na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Een van die verdagtes is later vasgetrek, maar ’n tweede is steeds op vrye voet.

Sondagaand is nog twee mense beseer toe op hulle geskiet is. Volgens Du Rand was die familie besig om te braai toe ’n verdagte in die agterplaas instap en op hulle skiet. Die gewondes is ook na die Swartland-hospitaal geneem vir behandeling.

Maandagoggend is twee mense ernstig gewond in ’n skietery voor die Kaap Agri in Tuinstraat. Du Rand sê die twee slagoffers het in hul motor gesit toe ’n gewapende man op hulle afpyl en op hulle begin skiet. Die bestuurder van die voertuig het daarin geslaag om self na die Swartland-hospitaal te ry ten spyte daarvan dat hy en sy passasier verskeie keer in die bolyf geskiet is. Albei is later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.

Klagte van poging tot moord word in al die skietvoorvalle deur die teen-bendegeweld-eenheid ondersoek.

Die verdagtes wat intussen aangekeer is, het reeds in die Malmesbury-landdroshof verskyn en word tot hul volgende hofverskyning aangehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article